SUID-AFRIKA. – Gerugte doen die rondte dat skimmel in sekere Montego Pet Food ontstaan het wat diere baie siek kan maak.
Johan van Jaarsveld, die besturende direkteur vir Montego, sê hulle kwaliteitsprosesse het op 13 September 2019 bogemiddelde voorvalle van skimmelvorming in sekere hondekos geïdentifiseer. “Toetsing, verslae en ondersoeke het aangedui dat die waarskynlikheid dat ongeveer 3% van die eenhede wat verkoop is, meer vatbaar is vir die vorming van skimmel as normaal. Ons het onmiddellik ’n kleinhandel- en verspreidingsherroeping gedoen op al die kleinhandelaars en depots sodat dit nie ons hoë kwaliteit standaard beïnvloed nie.”
Vogvlakke
Hy sê die vogvlakke word tydens produksie elke 30 minute deur laboratoriumtoerusting gemonitor. “Ons het sedertdien bepaal dat die voglesings wat tydens die toetsing verskaf is, onakkuraat was en dit het daartoe gelei dat die verpakking van die produk, wat normaalweg deur ons streng gehaltebeheerprosedures verwerp sou word, plaasgevind het.”
Hierdie verpakking het gedurende Augustus en begin September plaasgevind.
Warmer dele van die land
“Die foutiewe ontledings het gelei tot voglesings wat gemiddeld 1% tot 2% laer was as die werklike vogvlakke, wat dan geskikte toestande vir skimmelvorming geskep het. Dit kom egter voor asof die voorkoms meestal in warmer of vogtige dele van die land was, waarvan Gauteng die grootste aantal voorvalle getoon het. Ons het ‘n pro-aktiewe herroeping van alle groepe van sekere Montego-handelsmerke gedoen, wat vervaardig is tussen 23 Julie 2019 en 12 September 2019 in Gauteng,” sê Van Jaarsveld.
Allergiese reaksies
Hulle doen steeds ’n beroep op kliënte wat die groei van skimmel in die produkte ondervind om dit nie vir hul troeteldiere te gee nie, omdat dit kan lei tot allergiese reaksies.
Verdere toetse
“Intern, en met die samewerking van eksterne laboratoriums, het ons tot dusver meer as 850 toetse op verskillende monsters gedoen. Al die toetse wat gedoen is, het aangedui dat geen skadelike toksienvlakke in enige monsters, wat getoets is, teenwoordig is nie.
“Indien jy ‘n Montego-produk gekoop het wat nie in ooreenstemming is met ons standaarde van hoë gehalte nie, moet jy die produk asseblief terugstuur na die plek van aankoop om dit gratis te vervang. Ons vra om verskoning vir enige ongemak veroorsaak en verseker jou van ons toewyding om gehalte en veiligheidstandaarde te handhaaf,” verduidelik Van Jaarsveld.



