Myntrokke veroorsaak pad vol gate

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY. – Inwoners hier is bekommerd oor die toestand van ’n pad in Beaconsfield.

Daar is groot gate op die hoek van Woodburne- en Newtonstraat.

Lisa Walklett (44), ’n werker in hierdie area, sê dit is moeilik om by die werk uit te kom as gevolg van die gate. “Die myntrokke kom met spoed om die draai en het die waterpyp, wat langs die sypaadjie is, stukkend gery. Dit veroorsaak dat die pad heeltyd vol water is, wat die teer nog meer verbrokkel.”

Sy sê nadat die gate gevorm het, het die trokke oor die sypaadjies begin ry, om die gate wat hulle veroorsaak het, mis te ry. “Die stormwaterdreine, aan albei kante van die straat, se deksels is ook al stukkend gery as gevolg hiervan.

“Ons beskadig ons voertuie en bande om hier te ry en ongelukkig word niks hieraan gedoen nie. Met die water wat vir ’n paar dae afgeskakel is, het die water nou begin opdroog. Die oomblik wat die water weer aangeskakel word, sal die hele pad weer vol water wees. ”

Terwyl FiND iT in hierdie straat was, het ’n trok met spoed oor die sypaadjie gery.

Sello Matsie, woordvoerder van die Sol Plaatje-munisipaliteit, sê myntrokke word toegelaat om in residensiële areas te ry. “Hulle betaal ook belasting en padlisensies en word daarom toegelaat.”