KIMBERLEY. – ‘n Waaghalsige dief het twee keer in een week by ’n huis in Nederberglaan, Royldene, ingebreek.
Elbie van der Berg, die eienaar van die huis, sê sy het onlangs sekuriteitskameras laat installeer en kon vir die eerste keer ’n gesig by die dief sit. “Daar is al talle kere hier ingebreek en ek vermoed dit is elke keer dieselfde man wat aanhoudend terugkom.
“Drie ketels, vier aluminiumstoele, agt plastiekstoele, ’n warmskinkbord, tafeldoeke, plekmatjies, borde en baie meer is al hier weggedra. Hy het ook al my tuinwerker se koffie en suiker wat buite was, gevat. In ’n stadium was daar ’n bak roomys en blikkies koeldrank in die yskas, wat spoorloos verdwyn het.”
Sy sê haar huis is met ’n alarmstelsel op die erf beveilig, maar die dief weet al presies waar en hoe om in te kom sodat hy die stelsel systap. “Kort-kort gaan die alarm af, dan kom die alarmmaatskappy na die huis, maar dan is hy reeds weg. Ek dink hy toets om te sien waar die alarm hom optel en waar nie.”
Wickus Coetzee, eienaar van Scorp Security in Kimberley, sê dié man se foto is reeds na die buurtwaggroepe gestuur. “Ons hoop om hom te vang voor hy verder moeilikheid maak. Indien iemand hom herken, sal dit ook baie kan help.”
Hier is twee video’s waar die sekuriteitskamera hom gevang het:
Een video is op 29 September om 23:30 geneem. Die tweede video is op 1 Oktober om 01:41 geneem.
Hy dra ’n denimbroek met ’n donker kol aan die regteragterkant. Hy het ook ’n jas aan, met nog ’n baadjie onder. Hy het ’n snymerk bo sy regteroog en ’n langer sny op die linkerbokant van sy kop.






