MODDERRIVIER. – ’n Man is sowat 30 minute gelede hier by ’n OTM beroof.
Gerhard van Wyk (66) sê hy het na die Nedbank OTM gegaan om geld te trek. “Toe ek by die OTM kom, was daar twee mans voor my. Hulle het geloop, maar het hulle strokie agtergelos. Ek het hulle geroep en die strokie vir die een man gegee, toe sê hy vir my die OTM werk nie lekker nie.
“Ek het my kaart in die OTM gesit en my PIN ingedruk. Ek het nie agtergekom ’n man staan agter my nie. Die oomblik toe my kaart uitkom, het hy die kaart gegryp en gevlug.”
Van Wyk sê alles het so vinnig gebeur, dat hy nie kon sien hoe die persoon lyk nie. “Binne minute, voor ek my kaart kon stop, het hulle R1 500 uit my rekening getrek.”
Anna van Wyk, Gerhard se vrou, het op ’n munisipale groep vir die Ritchie en Modderrivier-area, gevra dat almal asseblief versigtig moet wees indien hulle OTM’s besoek.



