Drie in hegtenis geneem weens huisroof

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY – Die polisie op Delportshoop ondersoek ’n saak van huisroof nadat drie verdagtes gearresteer is.

Lt.-kol. Dimakatso Mooi sê: “Daar word beweer die verdagtes het die huis van die slagoffer binnegekom, die slagoffer met ‘n mes gedreig en geld geëis. Hulle het met ’n onbekende bedrag geld van die toneel gevlug voordat hulle die slagoffer doodgesteek het. Al drie is later gearresteer en word van huisroof aangekla.”

In ’n ander voorval ondersoek die polisie in Rosedale ’n saak van moord na die dood van ‘n 40-jarige man. Na bewering het die slagoffer die broer van die verdagte tydens ’n  geveg gesteek en later het die 36-jarige verdagte teruggekeer en die slagoffer doodgesteek om wraak op sy broer te neem. ’n Saak van moord is geopen nadat die slagoffer op die toneel dood is.

Intussen ondersoek die polisie in Pabalello ook ’n saak van moord nadat ‘n 32-jarige man tydens ’n geveg in ’n plaaslike taverne doodgesteek is. ’n 28-Jarige verdagte is gearresteer en van moord aangekla.

In Kimberley het ’n 19-jarige na bewering uit ’n vyfverdiepinggebou gespring en op die toneel gesterf. In hierdie stadium is die omstandighede rakende die voorval onbekend en word die voorval deur ’n ondersoekbeampte ondersoek.