KIMBERLEY. – Drie van Kimberley se top atlete gaan die komende naweek aan die Iron Man 70.3 World Championships in Nice, Frankryk, deelneem.
Adriaan Venter (42), Willie van den Berg (35) en Heine Lategan (37) het vandag vertrek om gereed te wees Sondag, voordat hulle by die Promenade des Anglais, Frankryk, wegspring.
Moet kwalifiseer
Om aan dié kampioenskappe deel te neem, moet jy onder die top atlete in jou ouderdomsgroep by die Iron Man 70.3 in Suid-Afrika eindig.
Die drie atlete het die afgelope paar maande hard geoefen en is gereed vir die lang tog wat Sondag voorlê. Hulle spring onderskeidelik 07:08 en 07:33 weg en begin met die swem in die see.
Oefen hard
Carlie Venter, Adriaan se vrou, gaan saam. “Hulle het so twee dissiplines per dag geoefen. Naweke ry hulle ongeveer drie ure fiets en hardloop twee ure. Sondag is dit weer ’n lang fietsry en lang hardloop.” Al drie het in die Virgin Active-swembad geoefen.
Dis die “ultimate”
Om aan dié wêreldkampioenskappe deel te neem, is die “ultimate” vir enige driekamp-atleet. As jy by die wêreldkampioenskappe goed doen, kan jy ’n professionele atleet word. “Enigiets tussen vier en vyf ure is ’n goeie tyd. Vir die pro wat wen, sal hy vir onder vier ure gaan.”
In die Alpe
Frankryk is tans tussen die seisoene en dit is nie te warm nie. Die mans neem hulle eie fietse saam en sal voor die naweek die fietse opstel en seker maak hulle toets die pad.
“Die moeilikste gedeelte is die fietsry. Die roete vir die fietsry is oor die Alpe, ’n gedeelte van die Tour de France.”
Volg hulle op die app
As jy hulle Sondag wil volg, laai die app Iron Man Tracker af en volg hulle nommers:
Adriaan – 2110

Willie – 2445

Heine – 2692

Die mans se gesinne het saamgegaan en na die tyd kan almal ontspan.
Hier is die video van verlede jaar se kampioenskappe:



