Peter (30) en sy vrou, Chantelle Steyn (27), is al vier jaar getroud. Hulle gesels met FiND iT oor hoe hulle ontmoet het en wat dit is wat hulle verhouding sterk hou.
Chantelle is ‘n onderwyseres by !Xunkwesa gekombineerde skool op Platfontein en Peter is die eienaar van Kimberley Recycling. Die paartjie het twee dogtertjies, Joanelle (3) en Miané (1).

Die ontmoeting
Hulle het ontmoet toe Peter by die biltongwinkel instap waar Chantelle gewerk het. Hy wou vir sy besigheid kleingeld maak. Peter sê daardie dag toe hy Chantelle sien, het hy net geweet sy is die een. Chantelle was ongelukkig in daardie stadium in ‘n verhouding. Peter het wel seker gemaak dat hy elke dag by die winkel ‘n draai maak.
In Julie 2012 het Chantelle se vorige kêrel met haar uitgemaak. ‘n Maand later het Peter haar as ‘n verrassing uitgevra. Hy het haar ingewag by haar huis met kerse, blomme en ‘n groot teddiebeer. “Hy het so aangehou om my te romance totdat ek verlief en lief geraak het vir hom,” sê Chantelle.

Verlowing
Peter het Augustus 2014 ‘n naweek na Parys gereël, naby Potchefstroom, met die bedoeling om vir Chantelle in ‘n lugballon te vra om met hom te trou. Ongelukkig het dinge nie gegaan soos beplan nie en kon hulle nie met die lugballon opgaan nie. Peter se pa het vir Chantelle gebel om haar geluk te wens met die verlowing en het dit amper weggegee, want teen daardie tyd kon Peter haar nog nie vra nie. Chantelle kon nie verstaan wat aangaan nie. “Ek verjaar nie, Oom”, het sy vir haar aanstaande skoonpa gesê.
Peter het van plan verander en Chantelle op ‘n uitstappie na die waterval by die lodge geneem. Daar het hy vir haar gesê dat hy dankbaar is vir die twee jaar wat hulle saam is en hoe lief hy haar het. Chantelle het gespot en gesê dat al wat nog kort, is dat hy haar moet vra om te trou, maar voordat sy klaar kon praat, was hy alreeds op sy knie, ring in die hand.


Die paartjie is in Desember 2015 getroud en was na Londen, Parys en Dubai vir hulle wittebrood.


Wat laat hul huwelik werk?
“Ons het nog baie date nights. Ons los die kinders by Ouma en dan gaan eet ons of gaan kyk ‘n fliek,” sê Chantelle. “Wees altyd daar vir mekaar. Moenie kwaad gaan slaap nie. In vandag se tyd gee mense te vinnig op. Mens kan deur alles werk,” sê Peter.



