Huis brand – Ma verloor omtrent alles

Deel hierdie storie / Share this story

’n Emosionele ma van Floors het vanmiddag by haar uitgebrande huis aangekom na ’n vuur binne-in die huis ontstaan het.

Cynthia de Wee (50) sê sy was nog by die werk toe haar buurvrou haar bel en sê haar huis is aan die brand. “Ek het dadelik die brandweer gebel en huis toe gekom.”

Haar tienerseun het in een van die kamers geslaap en is wakker gemaak deur die rook. “Ons weet nog nie wat die oorsaak is nie,” sê sy emosioneel terwyl sy na haar uitgebrande banke en bed kyk.

Beverley Ferris (59), Cynthia se buurvrou, sê hulle het die rook by die huis sien uitkom en dadelik begin water op die vlamme gooi om dit te probeer blus. “Ons het aanhou water gooi tot die brandweer opgedaag het.”

Na bewering was ’n buurman se dogtertjie in die huis. “Sy het televisie gekyk en sê daar het rook by die TV uitgekom. Ek weet nie of daar ’n kortsluiting was nie,” sê De Wee.

Die polisie en brandweer was op die toneel. Niemand het in die brand seergekry nie.