Hartaanval oorsaak vir Springbok-legende se dood

Deel hierdie storie / Share this story

Die voormalige Springbok-vleuel, James Small, ‘n speler van die 1995-rugbywêreldbekertoernooi, het vanmiddag skielik aan ‘n hartaanval gesterf.

Mnr. Mark Alexander, president van SA Rugby, het in ’n verklaring gesê daar is Dinsdagaand met die 50-jarige Small na ‘n hospitaal in Johannesburg gejaag nadat hy vermoedelik ’n hartaanval gehad het.

“James, ‘n speler van die triomfantlike Wêreldbeker-toernooi van 1995, sal altyd ‘n spesiale plek in die harte en gedagtes van Suid-Afrikaners hê en ons is baie hartseer om te hoor van sy afsterwe,” het Alexander gesê.

“Hy het altyd gespeel met die soort passie en moed waarvoor Springbok-rugby staan, en hy het sy lewe op dieselfde manier geleef.”

Alexander sê James het te jonk gesterf. “Ons gedagtes en meegevoel is met sy familie en vriende gedurende hierdie baie hartseer tyd. “

Rekord gebreek

Small het sy debuut vir die Springbokke teen Nieu-Seeland in Johannesburg in 1992 gemaak en in 1997 altesaam 47 wedstryde gespeel. Hy het 20 toetsdrieë aangeteken, die laaste in sy laaste wedstryd in Groen en Goud, teen Skotland. Hy het in daardie wedstryd Danie Gerber se toetsrekord gebreek.

Wedstryde

Hy het teen Nieu-Seeland, Australië, Wes-Samoa, Fidji, Frankryk, Italië, Roemenië, Engeland, Skotland, Argentinië en die Britse en Ierse Leeus gespeel.

In sy provinsiale loopbaan het Small vir die Goue Leeus (toe Transvaal), Sharks (toe Natal) en die Westelike Provinsie gespeel, waarvan drie westryde in die Curriebeker-eindstryd was. In hierdie eindstryde was hy onderskeidelik in die Sharks- en WP-spanne.

Afrigter

Small was ná sy uittrede uit nasionale rugby ’n afrigter en het Robert du Preez by die NWU-Pukke en die Luiperds gehelp, voordat hy as assistent-afrigter by Pirates in Johannesburg aangesluit het.

Small is die vierde lid van die Springbok-groep van 1995 om ná Kitch Christie (afrigter), Ruben Kruger (flank) en Joost van der Westhuizen (skrumskakel), te sterf.

Foto: International Rugby Academy