Man brand vanoggend dood in huis

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY. – ’n Man is vanoggend dood, toe die shanty wat hy opgepas het, vlamgevat en uitgebrand het.

Die shanty was geleë in John Dakastraat, Galeshewe.

Die oorledene is reeds geïdentifiseer as Lucky Boy Booysen (28). Hy was alleen in die shanty toe die vuur ontstaan het. Sy suster en broer was vanoggend op die toneel.

Verbygangers

Verbygangers het die vuur gesien en dadelik met emmers water die vlamme probeer blus. Allen Modise (45) en Daniel Poha (47) het verduidelik wat gebeur het. “Toe ons omstreeks 06:20 hier aankom, was hier ’n groot groep mense, maar het eers die vlamme gesien toe ons nader kom. Ons het dadelik na die nabygeleë buitewasbak gehardloop met emmers om water te kry,” sê Modise.

Die shanty was egter gesluit en hulle kon nie toegang kry nie. “Ons het die bure geroep om te kom help. Hulle het nog emmers gebring, asook ’n graaf om die shanty te probeer oopbreek. Toe ons die deur oop kry, het ons die verbrand man gesien. Ons kon egter nie ingaan nie, omdat daar nog baie vlamme binne was.”

Modise sê hulle het die brandweer gebel, maar teen die tyd wat hulle opgedaag het, was die vuur reeds geblus.

Eienaar van die woning

Basil Louw (35), die eienaar van die shanty, sê hy voel baie sleg oor die voorval, omdat dit sy shanty was wat Lucky Boy opgepas het. “Ek woon saam met my vriendin, nie baie ver van hier nie. Hy was ’n familievriend en ek het hom goed geken.”

Louw sê sy suster, wat ’n paar huise van die shanty af woon, het die vlamme gesien en hom dadelik kom roep.

Oorsaak van brand

Kapt. Bashoabile Kale, polisiewoordvoerder van Galeshewe, sê Booysen het vuur gemaak in ’n blik emmer, wat vermoedelik die brand veroorsaak het.