Neels Van der Nest (84), sekerlik bekend as Kimberley se oudste en bekendste manshaarkapper, het onlangs sy besigheid na sy huis geskuif. Oom Neels sny al van 1952 hare en sy goeie naam gaan hom steeds vooruit.
Hoekom ‘n haarkapper?
Oom Neels sê werk was altyd skaars en hy het raad by ‘n vriend gekry om ‘n haarkapper te word. Hy het sy loopbaan as haarkapper op Burgersdorp en Aliwal-Noord begin, maar het in 1960 Kimberley toe getrek. Hy het toe vir Raynard-haarkappers begin werk, eers vir 22 jaar in die Sanlam-arkade en vanaf 1992 in die Pope’s-gebou.
Hoekom die skuif?
“My kliënte het begin kla die omgewing raak onveilig. Daar was verskeie inbrake by kliënte se voertuie. Omdat ek my kliënte wil behou, het ek besluit om eerder my besigheid na my huis toe te skuif.”
Hoe hou hy homself besig wanneer hy nie hare sny nie?
“Ek staan elke oggend vyfuur op om te oefen. Daarna maak ek gereed vir die dag en begin om sewe-uur werk. Ek speel ook graag tennis in my vrye tyd. My gesondheid is baie goed en ek dank die Here daarvoor.”
Bekendes deur sy skêr
Oom Neels het die voorreg gehad om 10 van die All-Blacks rugbyspelers se hare te sny, onder andere Jonah Lomu s’n. Oom Neels sê Jonah Lomu het hom gevra om sy hare soos ‘n kroon te sny. Die bekende Griekwa- en Springbok-afrigter, André Markgraaff, het vir meer as 10 jaar by hom laat hare sny en ook dan sommer kom kers opsteek oor die nuutste rugbytegnieke, skerts oom Neels.
Hy het al baie vreemde versoeke ontvang, van hare wat in die vorm van weerligstrale gesny moet word, tot style wat soos ‘n baksteen moet lyk.


Wat maak oom Neels spesiaal?
Rudi Ferreira, ‘n sakeman van die stad, sê hy laat al sy hare by oom Neels sny vandat hy 10 jaar oud is. “Ek het as kind altyd in die ry gaan sit en wag om te laat hare sny. Wanneer jy sien dat oom Neels klaar iemand se hare gesny het, het jy opgestaan, die besem gevat en begin hare opvee. Daarna het hy vir jou ‘n lekker gegee en jy het weer by jou plek in die ry ingeval. Daar was nooit vir jou gesê of gevra om dit te doen nie, jy het dit net uit jou eie uit gedoen. Daar was ook altyd die lekkerste skinderstories in die salon vertel, maar oom Neels het nooit saam geskinder nie. Hy het net altyd geluister wat almal sê. Ek laat vandag nog my hare by oom Neels sny en sal nie van haarkapper verander nie.”
Dewald Burger van Jacobsdal sê hy laat al vir 33 jaar sy hare by oom Neels sny en vat ook sy twee seuntjies soontoe. “My pa het altyd na oom Neels toe gegaan en toe ek agt jaar oud was, het hy my saam begin neem. Ek hou daarvan dat hy nog soos die ou barbiere werk. Ek is ook mal oor sy geselsies oor rugby en politiek.”
Oom Neels sny steeds hare en doen dit nou vanuit sy perseel in Strubenlaan 23, Rhodesdene.




