Die Lodge Union of Athole 591 het Saterdagaand die koue trotseer en sop en brood in die Kimberley-CBD vir die mense wat op straat woon gaan uitdeel.
Rudi Dreyer, Louwrens van Heerden en Gerhard Hattingh het die groente en vleis vir die sop voorsien. Derrick Beangstrom het sy huis vir die dag aangebied sodat die sop daar gemaak kon word en die foto’s met behulp van Gerhard Hattingh geneem. Marthinus Meyer was die bestuurder vir die aand.

Straatkinders
“Dit was lekker koud, maar ons het omstreeks 19:00 begin rondry in die CBD op soek na straatkinders. Ons weet waar van die straatkinders slaap, dus het ons heelwat koppies sop daar uitgedeel,” vertel Rudi Dreyer, ’n lid van die Lodge Union of Athole 591.
“Ons het sowat 100 toebroodjies ook gemaak, dus het elkeen ’n broodjie en ’n koppie sop gekry.”
Sekuriteitswagte en hospitaal
Rudi sê hulle het ook stilgehou waar hulle sekuriteitswagte gesien het en vir elkeen ’n warm koppie sop gegee. “Teen 20:30 het ons ongeveer 50 koppies sop en broodjies uitgedeel en het nog baie sop oorgehad. Ons is toe Robert Mangaliso Sobukwe-hospitaal toe waar ons by die wagkamer vir ongevalle sop uitgedeel het. Ons het die res by die pediatriese afdeling vir die kinders en ma’s gaan gee.”
Waardering
Hy sê hulle kon sien hoeveel waardering die mense vir die sop en broodjies gehad het en hulle beplan om dit weer te doen.














