Twee broers van Hoopstad is die naweek aan die dood afgestaan nadat die bakkie waarin hulle gery het, omgeslaan het.
Pieter Möller, die bekende OFM-omroeper, asook ’n familievriend van die De Bruyn-gesin, het met FiND iT gesels oor die leemte wat dié twee seuns se dood in hulle lewens laat. “Stephan (23) en HC (21) was twee lewenslustige jongmanne wat spontaan en entoesiasties oor die lewe en die toekoms was. Hulle is Herman en Charleen de Bruyn se enigste kinders.”

Die ongeluk
Soos Pieter verstaan, was die twee broers by hulle jagplaas, sowat 25 km van hulle ouerhuis. “Hulle was op pad terug met Stephan se bakkie toe hy vermoedelik beheer verloor het en albei broers verongeluk het. Niemand kon nog vasstel hoe laat die ongeluk plaasgevind het nie. Die SAPD het vroeg Maandagoggend op die wrak afgekom, waarskynlik toe hulle aan diens was en omstreeks 06:20 daar verbygery het.”
“Ek was by die Vrystaat Landbou as hoofbestuurder betrokke en het met Herman de Bruyn kennis gemaak toe hy die voorsitter van Hoopstad-Suid se Boerevereniging was. Ek het verskeie projekte en boeretoere saam met hulle meegemaak. Ek ken die De Bruyn-gesin bykans 20 jaar,” vertel Pieter.
Talentvolle kinders
“Die seuns was saam met my seun op skool en was twee talentvolle kinders met sterk leiereienskappe, wat ’n wye belangstelling gehad het en goed presteer het in sport, musiek en kultuur. Hulle was lief vir die veld, mense en veral die landbousektor waarin hulle grootgeword het.
Stephan het sy vlieglisensie gekry en was saam met sy pa in die boerdery. HC het veeartsenykunde by die Universiteit van Namibië, buite Windhoek, gestudeer. Hy het kom kuier vir die vakansie.”
Begrafnis
“Die begrafnis van Stephan en HC sal Saterdag, 22 Junie om 11:00 vanuit die NG-gemeente Hoopstad wees.”





