‘n Anonieme leser vertel aan FiNd iT van die aand toe sy op ‘n date verkrag is.
“Ek is onlangs verkrag deur ‘n man toe hy my uitgeneem het vir ete. Dit was nie die eerste keer wat ek saam met hom uit was nie. Ons het deur sosiale media ontmoet. Ons het vir maande oor Whatsapp gesels voordat ek besluit het om die kans te waag om hom te ontmoet.”
“Die aand wat hy my verkrag het, was ons vierde date. Die vorige drie dates was heel normaal. Ek het eintlik baie van hom gehou en hy het nie vir my ‘n rede gegee om hom te wantrou of onveilig te voel nie. Ons het uitgegaan vir ete en ek het dit baie geniet. Na die tyd het hy my oorgenooi na sy plek toe, maar ek het dit van die hand gewys en gesê ek wil eerder huis toe gaan. Hy het aangebied om my by die huis af te laai. “
“Op pad na my huis toe het hy afgetrek en my in die kar vasgedruk en toe verkrag. Hy het my daarna by die huis af gelaai.”
“Ek het onmiddellik daarna hospitaal toe gegaan en ‘n klag by die polisie gelê. Toe hulle ondersoek instel, het hulle agtergekom dat die nommer wat hy gebruik het vir Whatsapp nie meer in werking is nie. Daar word vermoed die naam en van wat hy vir my gegee het, is ook vals. Die kans is baie goed dat hy nie opgespoor gaan word nie.”
“Ek voel soms te bang om my huis te verlaat. Ek kan nie mans in die oë kyk in die straat nie. Ek voel heeltyd angstig en bang om alleen te wees.”



