Gemeenskap is ontstoke oor nog ’n moord

Deel hierdie storie / Share this story

Die Breipaal-gemeenskap is ontstoke na die liggaam van die 16-jarige Yolandre Tolli vanoggend deur gemeenskapslede gevind is. Haar liggaam is onder ’n klein boompie in ’n veld, sowat 150 m van haar huis gevind. Die gemeenskap sê hulle voel onveilig en dit is die tweede persoon wat dood gekry is in ’n baie kort tydperk.

Verdagte vrygelaat

Justice Klaaster, een van die gemeenskapslede, het die polisie beskuldig dat hulle nie gehelp het om Yolandre te soek nie. “Ons het die polisie 07:50 Maandag gebel, maar hulle het eers 11:15 hier opgedaag,” vertel hy. “Hulle het ’n verdagte in hegtenis geneem, maar het hom kort daarna vrygelaat. Die polisie het gesê hulle het geen bewyse teen die man nie. Toe ek vra of hulle nie dan net ’n saak van ontvoering kan oopmaak nie, was daar vir my deur ’n polisieman gesê ek moet my nie slim hou nie.”

Inligting deurgegee

Klaaster het elke dag sedert 2 Junie toe Yolandre vermis geraak het, na haar gesoek. “Ek is die een wat elke dag vir die polisie inligting deurgegee het, omdat hulle nie veel moeite gedoen het nie. Ons kon nie heeltyd vir hulle wag nie, omdat hulle drie of vier ure neem om hier uit te kom. Yolandre se serp is vroeër die week op haar ma se gras gekry. Ons het die polisie gebel en weer eens ’n paar ure gewag voor die polisie die serp kom haal het.”

Klaaster sê ook dat hy die polisie gesê het die gemeenskap gaan dit nie net daar los nie. “Ek het vir die polisie gesê indien hulle die verdagte vrylaat, ek een van die dae in die tronk gaan opeindig.”

Klaaster sê dit is die tweede lyk van ’n vrou wat in dié veld gekry is. “Ons het al gevra dat hulle ligte daar opsit, maar dit het nie gebeur nie.”

Weer in hegtenis geneem

’n Gemeenskapslid het vanoggend buite die verdagte se huis geskree en gesê: “’n Ma is ’n ma en ’n ma mag veg!” Die verdagte, wat vroeër die week vrygelaat is, en sy vrou, is vanoggend weer in hegtenis geneem na kledingstukke en bloed in hulle huis gevind is.

’n Leser wat anoniem wil bly, het ook bevestig dat Yolandre se tannie vroeër die jaar na bewering vermoor en buite haar plakkershut gevind is.

Lt.-kol. Dikamatso Mooi sê Yolandre se halfnaakte lyk is in die veld gekry. Sy het snywonde aan haar nek gehad.

Kyk die video’s hier

’n Gemeenskapslid het vanoggend buite die verdagte se huis geskree en gesê: “’n Ma is ’n ma en ’n ma mag veg!”
Hierdie leser verduidelik hoe die gemeenskap moet saam staan en nie meer bang moet wees nie.