“Ek het haar net geskop en geslaan – nie verwurg”

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY – Dawid Adams (55) van Hartswater is vandag in die hooggeregshof in Kimberley tot 20 jaar gevangenisskap gevonnis.

Adams het op 19 en 20 Februarie 2018 sy meisie, Caroline Maano, aangerand en verwurg. Maano se liggaam is in die vroeë oggendure van 20 Februarie 2019 op die bed in hulle karavaan op plot 1FX1 op Hartswater gevind.

Adams het vandag tydens sy ondervraging in die getuienisbank vir sy onskuld gepleit. “Ek het haar nie verwurg nie, net geskop en geslaan.”

Die slotbetoë

In die slotbetoë het staatsaanklaer K. Ilanga gesê hoe kosbaar dit is om te lewe. “Die verdagte en die oorledene was in ’n romantiese verhouding. Hy was veronderstel om haar te beskerm, nie haar aan te rand nie. Al die getuienis is in die hof. Selfs toe die hof hom die laaste kans gegee het om eerlik te wees, het hy besluit om steeds onskuldig te pleit.” Maano was ‘n ma van twee minderjarige kinders.

“Die beskuldigde het vier vorige oortredings, maar geen van die oortredings het enige verwysing na geweld teen ‘n persoon gehad nie. Sy laaste oortreding voor die huidige saak was 13 jaar gelede. Neem asseblief in ag dat hy oud is en drie minderjarige kinders het. Hy betaal ook maandeliks R1 000 aan finansiële ondersteuning vir die kinders,” het sy prokureur, Heinrich Steynberg, gesê.

Adams in die hooggeregshof.

Regter S.C. O’Brian

“Sy was nog ‘n jong dame en was relatief klein in vergelyking met jou. Vergelyk 1,4 m en 40 kg met dié van jou statuur. Jy is 55 jaar oud en met hierdie spesifieke ouderdomsgaping sou ons gedink het dat jy meer beskermend teenoor haar sou wees,” sê regter S.C. O’Brian. “Sy het jou ‘Daddy, my love’ genoem, wat ‘n vorm van respek is wat sy vir jou gehad het, maar tog het jy met die wrede aanranding op haar liggaam voortgegaan. Jy het haar so baiekeer geskop, dat jy nie eens die hof kon vertel hoeveel keer jy haar geskop het nie. Jy het haar toe tot die dood verwurg. Jy speel nog steeds nie oop kaarte met die hof nie en wil nie erken dat jy haar verwurg het nie, selfs met die oorweldigende getuienis teen jou.”

Hy sê verder haar kinders is nog jonk en haar seun het probleme op skool. “Hulle sal nooit die voordeel hê om hulle ma om hulle te hê om te sien hulle vorder nie. Dit het ook haar ma en broer geraak. Jou vorige oortredings is oud en het geen verwysing na hierdie saak nie. Dit is hartseer om te sien hoeveel vroue in mishandelde verhoudings is. Ek stem saam met die staatsaanklaer en sien die erns van die saak. Jy sal gevonnis word tot langtermyn gevangenisstraf. Geen vonnis sal die oorledene weer terugbring nie. Ek kan net hoop dat die gesin en kinders met tyd sal kan aanbeweeg.” Dié was die regter se laaste woorde voor hy Adams tot 20 jaar gevangenisstraf gevonnis het.