Tornado tref plaas buite Kimberley

Deel hierdie storie / Share this story

Johanna Fourie en haar familie is Woensdag 8 Mei omstreeks 14:30 deur ‘n tornado op hulle plaas Rietfontein getref. Die plaas is net buite Modderrivier.

Groot skok

“Dit was heeldag onweer en reёnerig. Die volgende oomblik het dit geklink of dit wou hael en toe waai die verskriklikste wind. Toe my kinders buite kom, was daar net verwoesting.”

“Ek en my man, Johan Fourie, was besig in die hoenderhokke (ons boer met vryloophoenders). Ons het nie besef wat besig was om te gebeur nie, todat die hoenderhok voor my en my man stuk-stuk begin wegwaai het. Ons het toe besef hier is groot moeilikheid. My man het die hek by die hoenderhok vasgehou en was letterlik vir ‘n paar sekondes in die lug, terwyl ek aan sy bene vasgeklou het.”

“Toe my kinders by die huis uitkom, die verwoesting sien en ons nie dadelik opspoor nie, was hulle paniekerig. Niemand het darem seergekry nie. Almal het net baie groot geskrik.”

Die skade

“Daar is twee woonhuise op die plaas. My kinders se huis het nie skade nie, maar ons huis het groot skade gely. Gedeeltes van die dak en plafon het weggewaai. Groot skade is aan die hoenderhokke, koelkamer en voertuie aangerig.”

“Ons is verslae om te sien hoeveel skade in 10-15 sekondes berokken kan word en het net weer eens besef hoe klein en nietig ons as mense is. Ons is uiters dankbaar dat niemand seergekry het nie.”