Minette Kruger, ‘n gr. 7-leerder aan die Laerskool Eureka, is gekies om Suid-Afrika te gaan verteenwoordig in Budapest, Hongarye vir die ISF World Combat Games.
Die ISF World Combat Games vind plaas vanaf 16 tot 21 Junie 2019. Die leerlinge gaan ook ‘n oefenkamp vanaf die 11de -15de Junie bywoon, wat deur die Hongaarse stoeivereniging gereël is.
Sy is die enigste lid van die Noord-Kaap en slegs een van twee meisies wat gekies is om te gaan stoei.
Waar het alles begin?
Minette het in 2017 begin stoei. Sy het slegs vier maande gestoei toe wen sy haar eerste nasionale titel. Sy het dit reeds drie keer verower en het ook haar SA-kleure ontvang.
Minette is ‘n baie hardwerkende atleet met baie selfmotivering en vasberadenheid om ‘n sukses van alles te maak.
Hoe voel sy oor die uitnodiging?
Sy is ongelooflik trots en opgewonde. Sy tel al die dae af tot hulle vlieg. Haar ma, Marilise Kruger, sê sy is baie trots op haar dogter en vreeslik opgewonde vir haar part.





