Man van vele talente in ons midde

Deel hierdie storie / Share this story

Jandré du Plessis (17), ’n gr.11-leerder aan die Hoërskool Diamantveld, is die man agter die stem by hierdie jaar se Wildeklawer-toernooi.

Jandré, afkomstig van Vryburg, het sy skoolloopbaan by Hoërskool Diamantveld begin. Volgens Jandré bly hy baie lekker in Kimberley en geniet elke oomblik daarvan. “Ek is ongelooflik trots om by my skool en dorp betrokke te kan wees. Kimberley se vriendelike mense is sekerlik een van die goed wat vir my die meeste van die dorp uitstaan.”

Toekomsplanne

Jandré is nog nie seker waar hy homself na skool gaan bevind nie, maar oorweeg om heel moontlik ‘n sakeman te word. “Ek sal graag deeltyds B.Com ondernemingsbestuur wil studeer terwyl ek werk en heel moontlik ‘n loopbaan in bemarking volg.”

Waar het alles begin?

In 2018 het hy vir die eerste keer by die Wildeklawer-toernooi betrokke geraak. Hy het sy pos as verslaggewer vir Find iT volgestaan en by die toernooi self as fotograaf sy merk gelos. Hierdie jaar werk Jandré as seremoniemeester nadat mnr. Neil hom genader het. Hy is ook deel van die FiND iT-skryfspan.

“Ek skryf al vandat ek gr. 8 is vir die skool se koerant, Aitsa.”

Hy vertel sy belangstelling in die media het begin toe hy in 2018 by die Wildeklawer-toernooi begin help het. “Die Wildeklawer het my baie gehelp. Dit het my liefde vir die media net soveel meer aangewakker. Dit help ook natuurlik dat Jana vir my baie vrye teuels gegee het om my eie persoonlike stempel af te druk. Dit is ongelooflik om te sien hoe FiND iT gegroei het, aangesien ons met slegs 2000 likes begin het en tans op ongeveer 13 000 likes staan.”

Goeie platform

Jandré reken die Wildeklawer-toernooi is ‘n fantastiese platform.“Die wonderlike ding van hierdie toernooi is die fantastiese spelers wat van regoor die land na Kimberley kom om deel te neem om raakgesien te word. Goeie rugby staan beslis uit by die toernooi, maar moenie van die netbal vergeet nie, dis net so fantasties.”

Nie ‘n groot sportman nie

Jandré self is nie ‘n groot rugbyliefhebber of -speler nie, maar hy sê selfs mense wat nie so gefokus is op sport nie, moet ten minste die gees kom beleef. “Dit is wat vir my die meeste van die toernooi uitstaan.”