Mia Poulton (50), ‘n inwoner van Kimberley, is op 26 Februarie 2018 met kolonkanker gediagnoseer.
“Sy was platgeslaan”
Petro Potgieter, Mia se vriendin, sê haar simptome was naarheid, abnormale ontlasting en skielike gewigsverlies. “Mia en haar gesin was platgeslaan deur die nuus, maar met die bystand, hulp en gebede van familie en vriende het hulle dit verwerk en kyk nou vorentoe. Sy glo sy gaan volkome herstel en dit hou haar staande.”
Chemoterapie en bestraling
“Sy het met chemoterapie begin en daarna het sy ses weke se bestraling gekry. Op 10 Desember 2018 is sy geopereer en die gedeelte van die kolon wat kanker het, is verwyder. ’n Kolonsakkie is toe aangebring. Daarna het sy weer begin met chemoterapie, waarvan sy nog een sessie oor het. Sy gaan na haar laaste sessie weer vir ‘n scan en dit sal dan bepaal wat die pad vorentoe behels,” verduidelik Potgieter.
“Tans beloop die agterstallige hospitaalkostes en prosedures R100 000 en die verdere behandeling word op nog R52 000 geskat.”
Kom geniet die aand saam met ons
Haar man, Jason Poulton, is ’n oud biker van Kimberley, dus gaan daar in samewerking met die Elite Rebels-motorfietsklub en die Big Hole driving range, ’n event op 22 Junie 2019 gehou word om geld in te samel vir die mediese onkostes. Daar sal vertonings van kunstenaars en gaskunstenaars wees met ’n ete en dans. “Dit gaan by die Big Hole driving range gehou word en inligting oor die kunstenaars sal binnekort gegee word.”




