Jason Rohde hoor Dinsdag of hy mag appelleer

Deel hierdie storie / Share this story

Jason Rohde (50) wat na bewering sy vrou Susan Rohde vermoor het, hoor Dinsdag of sy aansoek om verlof tot appel teen sy vonnis goedgekeur is, berig Netwerk24.

Rohde, wat 20 jaar effektiewe tronkstraf opgelê is vir moord, se regspan het in Maart sy aansoek by die hooggeregshof in Kaapstad ingedien.

Rohde se regspan sê die hof het sy vonnis op ‘n “onaanvaarbare en onregterlike”  wyse benader. In die aansoek word ook aangevoer Desmond Daniels, die nutsman, en Mark Thompson, ‘n oud-kollega, kan nie as geloofwaardige getuies gesien word nie.

Luidens die aansoek is Rohde se vonnis onregverdigbaar swaar en die uitwerking daarvan is om hom onvermydelik te breek.  Daar is ook nie behoorlike oorweging gegee aan versagtende omstandighede nie.

Rohde ontken dat hy sy vrou in Julie 2016 vermoor het. Susan se lyk is in die egpaar se hotelkamer in die Spier-hotel buite Stellenbosch gevind. Hy het aangevoer dat sy haarself met die koord van haar haartang agter die badkamerdeur gehang het.

Rohde was die gewese uitvoerende hoof van Sotheby’s International Realty Suid-Afrika. Hy en Susan was ten tye van die voorval by die maatskappy se jaarlikse konferensie.

Die hof het bevind dat hy haar verwurg of met ‘n kussing versmoor het. Die hof beweer hy het haar lyk na die badkamer gesleep om dit te laat lyk of sy haar eie lewe geneem het.

Die egpaar het drie dogters.