“Ek is ’n dwelmverslaafde in rehab”- Juan Deel 1

Juan van Rensburg (36) se sussie Ellouise van Rensburg (33) het laasweek haar storie van hoop met lesers gedeel as ’n sussie wat moes toekyk hoe haar broer alles as gevolg van dwelms verloor het.

Na jare se verslawing het Ellouise en Juan saam op breekpunt op 10 Februarie besluit dat dinge nie verder so kan aangaan nie.

Sonder enige baklei of smeek het Juan ingestem om na Noupoort-rehabilitasiesentrum te gaan.

Juan is reeds al vir die afgelope agt weke by die sentrum. Vir die volgende 44 weke gaan Juan uit die rehabilitasiesentrum sy pad na herstel met ons lesers deel.

Sy sussie Ellouise vertel namens hom omdat ons nog nie in dié stadium self met hom mag kontak hê nie.

Die eerste paar weke

“Die eerste paar weke was ‘n groot aanpassing,” vertel Juan. “Ewe skielik moes ek in ‘n plek bly waar ek “vasgevang” is met soveel reëls en regulasies. En dan natuurlik die ergste van alles – die onttrekkingsimptome.”

Juan mag slegs met sy klere daar ingestap het. Al sy toiletware is aan hom voorsien.

Ellouise vertel dat hulle eers onlangs vir hom ‘n radio, ketel en ‘n verwarmer mag gestuur het.

“Hoe langer hy daar is, hoe meer word sy voordele. Alle pakkies moet ook direk aan Noupoort gestuur word en word dan deeglik deursoek,” verduidelik sy

Juan is vandag presies twee maande by die sentrum en dit gaan baie goed met hom. Hy deel ‘n kamer met twee ander mense met afskortings vir ‘n bietjie privaatheid.

Volgens Juan is dit baie rof, “maar ek is positief oor die pad vorentoe.”

Verantwoordelikhede by die sentrum

Gedurende sy eerste week by die sentrum moes hy elke dag 130 skape oppas. Dit was net hy, die skape die oop vlaktes, sy gedagtes en natuurlik die onttrekkingsimptome op die plaas. Hy moes ook die varke kos gegee het en gesorg het dat die hokke skoon is.

Ellouise vertel dat Juan op die oomblik by die groentetuin en die vrugteboorde werk. “Juan se hande staan vir niks verkeerd nie. Hy geniet dit om aan die besproeiingstelsel te werk en die gebreekte pype te herstel.”

Volgens Juan is hulle heeldag besig by die sentrum en is daar nie tyd vir slaplê nie. “Noupoort het zero tolerance vir lui mense,” lag hy.

Wanneer die dag se verantwoordelikhede verby is en alles rustig raak, werk sy kop oortyd en dink hy aan alles wat hy aangevang het en hoe dinge baie anders kon gewees het. Maar dit kry Juan nie onder nie en hy beveel Noupoort vir enige verslaafde aan. “Die plek ruk jou reg, maak nie saak wie jy is, of hoe groot jou verslawing is nie.”

As daar wel een “negatiewe punt” is wat Juan kan noem van die sentrum, spot hy en sê dat hy te min vleis kry om te eet!

Juan kry maar min kans om met sy familie te gesels omdat hy slegs vier oproepe van 10 minute ‘n week mag ontvang. Hy moet eers toestemming by die huisvader kry en agtergrond gee oor die persoon met wie hy wil kontak maak.

Ellouise vertel dat Juan dankbaar is vir nog ‘n kans op die lewe en om sy lewe te verander. “In die afgelope twee maande het Juan geestelik gegroei soos nog nooit voorheen nie. Hy het weer die Here gevind en daagliks begin bid.”

‘n Paar van die reëls by die sentrum

-Geen fone nie.

-Hare mag nie langer as ‘n kammetjie twee gesny wees nie.

-Elke oggend vyfuur word kamerinspeksie gedoen.

-Mag niks met mekaar deel nie.

-Mag nie die meisies of vrouens wat ook in die sentrum bly, groet nie.

-Geen kontant word by die snoepie aanvaar nie. Slegs kaarte.

Indien jy enige van die reëls oortree, word jy gestraf deur bv. ‘n week lank skottelgoed te was.

“Ek is nie alleen nie”

FiND iT se vorige artikel oor Juan het baie positiewe reaksie uitgelok met mense wat vir hom bid en voorspoed toewens. Ellouise het vir hom al die kommentaar gelees en “dit het hom net weer laat besef hy is nie alleen in die ding nie.”

“Dankie vir almal wat die pad saam met my gaan stap deur my storie van hoop elke week te volg. Dit beteken die wêreld vir my,” sê ‘n positiewe Juan.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: