GROBLERSDAL, LIMPOPO. – Piet Groenewald en Stefan Greeff het Woensdagmiddag in die Groblersdal-landdroshof verskyn. Hulle aansoek om borg is tot Maandag 12 Februarie uitgestel.
Na bewering het hulle op 17 Januarie “met opset” ’n veiligheidshond op Veneruru Kavari, ’n werknemer by Groenewald se veiligheidsmaatskappy, losgelaat. Hulle verweer is dat Kavari “onder die invloed van alkohol” was en glo ’n panga by hom gehad het.
Volgens Petrus Sitho, sosiale aktivis, was van die getroue ondersteuningsorganisasies wat agter die beskuldigdes staan, nie by die hofverskyning nie. “Ek sal by elke hofsaak ter ondersteuning van die beskuldigdes daar wees,” het Sitho egter belowe.
EFF- en ANC-ondersteuners was al vroeg Woensdag voor die hof teenwoordig om hul ondersteuning vir die vermeende slagoffer te toon. Carl Niehaus het die hofverrigtinge as EFF-lid bygewoon.
Groenewald en Greeff word van aanranding met die doel om ernstig te beseer aangekla. Volgens Greeff se verklaring sien hy die hofsaak as ’n pion in die aanloop tot die verkiesing. Groenewald maak in sy verklaring vir die borgaansoek melding van sy asma en hipertensie.
Die beskuldigdes bly tot hulle volgende hofverskyning in aanhouding.
Bronne: Petrus Sitho, Polokwane Weekly



