Drie seuns sterf in ongeluk

Deel hierdie storie / Share this story

Drie seuns, Daniël Jordaan (16) van Somerset-Wes en ‘n leerder van Paul Roos Gimnasium, Werner Oosthuizen (16) van Freemantle in Australië en Jean Conradie (16) van Somerset-Wes en ‘n leerder van Parel Vallei, het Sondag toe hulle van ‘n kamp teruggekeer het buite Ellisras (Lephalale) in Limpopo in ‘n ongeluk gesterf.

Andries Erwee het die aankondiging op sy Facebook-blad gemaak en gesê Pieter Marais, die bestuurder van die voertuig, word nog vir skok in ‘n hospitaal op Ellisras behandel, maar al die ander beseerdes is reeds ontslaan.

Daniël Jordaan se afsterwe is deur sy ma, Surita Jordaan en Paul Roos Gimnasium se Facebook-bladsye aangekondig.

Jean Conradie se afsterwe is deur Parel Vallei op hul Facebook-blad aangekondig.

Die seuns was saam met nog seuns op ‘n Kalahari Vasbyt-avontuurkamp. Volgens hulle Facebook-blad word die kampe soos volg beskryf: “Die Kalahari Vasbyt help jongmanne en die Okavango Vasbyt help jong meisies om hul drome waar te maak. Dit is extreme avontuur in Botswana, Namibië en Zimbabwe vir 16-jariges.”

Volgens Die Pos het die ongeluk op die R510 naby Welgevonden-wildreservaat se hek tussen Ellisras en Vaalwater plaasgevind.

Lees Paul Roos Gimnasium se aankondiging hier onder:

Dit is met groot hartseer dat ons verneem van die afsterwe van ‘n geliefde Paul Roos Gimnasium-leerling Daniël Jordaan (16).

Daniël was gister in ‘n noodlottige botsing naby Lephalale (Ellisras) in Limpopo. Die insident het plaasgevind tydens sy terugkeer vanaf die bekende Kalahari-Vasbyt.

Lees Parel Vallei se aankondiging hier onder:

Jean Conradie

Vandag is ons harte seer oor die skielike afsterwe van ons geliefde Jean Conradie (17).

Jean, ‘n topstudent wat altyd sy kant gebring het, was ‘n ware voorbeeld van ‘n Parel Valleier, ‘n stil, sterk en opregte seun wat ‘n impak gemaak het oral waar hy betrokke was.

Jean sal gemis word in die klas, op die hokkieveld, landloop- en muurbalbaan, maar veral in ons harte – nou en vir ewig!

Ons harte gaan in hierdie tyd uit na Jean se vriende en familie, maar veral na sy gesin: ma René, pa Jaco, broer Marco en sussie Lisa. Ons deel in julle leed.

Die Here is julle anker.

Baie liefde.

Julle Blue Thread-familie

Die Paul Roos-gemeenskap betoon ons innige meegevoel aan sy familie, vriende en geliefdes met sy skielike heengaan.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel