MPUMALANGA. – ‘n Plaasvoorman van Makubalaan-plantasies, ongeveer 25 km van Lydenburg, is Sondagaand deur beweerde plaasaanvallers gewond.
Hendrik Hattingh van Heritage Potection Group sê in ‘n sosialemediaplasing hulle het omstreeks 20:00 ‘n noodroep van ‘n plaasaanval ontvang.
Die plaaseienaar is deur sy werkers gebel en gesê die voorman, wat van vakansie teruggekeer het, is geskiet. Hy is glo deur vier verdagtes by sy huis ingewag en ‘n skietery het uitgebreek. Die voorman, wat bewapen was, het teruggeskiet maar is steeds in die kuit en onderbeen getref. Hattingh sê volgens die voorman het hy een van die verdagtes getref, maar al die verdagtes het daarin geslaag om saam van die toneel te vlug.
Die plaas se sekurteitsmaatskappy is gekontak om die voorman te help stabiliseer en na Lydenburg toe te vervoer, waar ‘n ambulans hulle langs die pad ingewag en die gewonde man verder tot hulp was. Die voorman is van Lydenburg na Mediclinic in Nelspruit oorgeplaas.
Op die toneel, wat volgens Hattingh beveilig is, is 9 mm-doppies gekry, waarna die toneel om 23:00 aan die polisie en plaaslike kriminelerekordsentrum (PKRS) oorhandig is. ‘n Bloedspoor is tot by die plantasie gevolg. ‘n Spoorsnyhond het ook die spoor gevolg.
Die polisie ondersoek die saak.
FiND iT het polisiekommentaar gevra.
Bron: Heritage Protection Group
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel



