Waarskuwing! Die berig kan sensitiewe lesers ontstel.
GAUTENG – ‘n Gesin van drie – ‘n man, sy vrou en hulle seun (13) – is Saterdagoggend tydens ‘n huisroof op ‘n kleinhoewe in Verreynestraat in Andeon met messe gesteek. Die gesin se twee jonger dogters, onderskeidelik 8 en 5 jaar, was ook tydens die voorval teenwoordig. Die area is in die Hercules-polisiëringsarea.
Stephenie en Pieter Venter, asook hulle seun Jayden Swart (13), is deur Pro Med Ambulansdienste met veelvuldige messteekwonde na Kalafong-hospitaal gehaas. Die messe wat deur die verdagtes gebruik is, was afkomstig van die Venters se kombuis.
Van gelukkig tot gebroke en met baie pyn, beskryf ma Ansie hoe dit met haar kinders gaan. Almal het steke gekry, het drups opgehad en is anti-retrovirale medikasie voorgeskryf as voorsorgmaatreël vir indien hulle met bloed in aanraking was. Hulle het genoegsame pynmedikasie ontvang. Die trauma sal volgens Ansie eers van vandag af aangespreek word wanneer die Mon Ami Trauma Troops hulle gaan besoek. Die beseerdes is reeds gister uit die hospitaal ontslaan en het langs hulle eie huis by hulle ouers ingetrek.
“Ons gaan almal trek, uit Gauteng uit. Ons kan nie langer hier bly nie. Ek het net Vrydag ons almal se huurgeld betaal. Ons is nou eers in ons derde maand wat ons hier bly en indien ons geweet het die plek word so deur misdadigers geteiken, sou ons nooit hierheen getrek het nie.”
Die gesin wat aangeval is, woon langs hulle ouers en Ansie beskryf hulle is slegs deur drie motorhuise van mekaar geskei. Hulle het nie wakker geword toe die veiligheidshek oopgebreek is en die booswigte vrylik heen en weer beweeg het om uit die huis te steel nie. ‘n Televisie is van ‘n muur af gehaak, al Jayden se klere in sy bagasie is net so gevat en die jonger dogters se kaste is leeggemaak.
“Ons hond laat niemand op die erf toe nie, maar hy het nie ‘n geluid gemaak nie, selfs die hond binne by ons het nie eers geblaf nie. Dit is alles ongewoon, aangesien ons ook almal ligte slapers is.”
“Jayden is vroeër die aand by die lughawe gaan haal en sy bagasie is net so neergesit toe hulle tuiskom. Stephenie het besluit die twee jong meisies sal die nag by hulle op ‘n matras slaap.”
Dan vertel sy: “Pieter het wakker geword toe hy iets teen sy keel voel. Met dié het ‘n stem gesê: ‘You must comply,’ en die lig is eensklaps aangesit. Stephenie het dadelik wakker geword toe die lig aangaan. Sy het opgespring, maar hulle is beveel om te lê. Geld is deur die booswigte geeïs, waarop hulle gesê is die gesin het nie geld nie. Hierna sê Ansie het die aanvallers aggressief geraak.
Jayden, wat in die agterste kamer slaap, het van vreemde stemme wakker geword en nadergesluip. In die gang het hy ‘n besemstok gegryp en een van die verdagtes met die besem gemoker toe hy die drie vreemde mans in die kamer aantref. Hy is met ‘n mes gesteek. Pieter en Stephenie het opgespring, waarna Stephenie een van die booswigte gegryp het. Sy is gesteek en Pieter, wat tot haar redding wou kom, is ook gesteek. Pieter het ook na die aanvallers gegryp en het ‘n hou of twee toegedien.
‘n Stok wat een van die aanvallers by hom gehad het, het na die aanval buite die huis gelê.”
Ansie sê Stephenie het ‘n klip deur die venster gegooi om vir hulle ouers van die aanval te sê en hulp te ontbied. Die hulp van die GPF en SAPD is as fantasties beskryf, maar Ansie sê hulle het gesukkel om ‘n ambulans te kry om hulle te help, waarna Pro Med Ambulansdienste hulle dadelik kon help.
“Dit terwyl bloed letterlik uit wonde gespuit het, het die staatsambulans geweier om ons te help en ‘n ander diens het nie ‘n ambulans beskikbaar gehad nie, al wou ons kontant betaal. My seun was met sy bankkaart op pad om te betaal.”
Ansie sê voorts die polisie was vanoggend by hulle met vyf manspersone. Hulle is gevra of dit van die verdagtes was, maar hulle was onseker. Daar is vingerafdrukke op die toneel gekry, wat ingestuur is, maar die familie is ingelig die saak word gesluit omdat hulle ongeveer twee jaar vir die uitslag van die vingerafdrukke gaan wag. Haar dogter van Kilnerpark het vir beamptes gesê die een selfoon is tot daar naby nagespoor, maar niemand het belang gestel om die inligting op te volg nie.
Volgens Ansie moes vir forensiese deskundiges gewag word op die aand van die aanval, omdat hulle eers by twee ander voorvalle was. Ansie vertel hoe ironies die aanval is, aangesien Stephenie en Skyler, haar een jong dogter, in die dokumentêr van AfriForum, Plaasmoorde gespeel het. Die toneel van die rooikop Wilmien Potgieter (2) wat saam met haar ouers Attie en Wilna gedurende Desember 2010 op ‘n plaas in die Vrystaat vermoor is, is deur hulle vertolk is. (Berig onderaan.)
Ansie deel die foto’s van haar kinders se wonde met die doel om mense bewus te maak van wat aangaan.
Nico van Vuuren, die GPF-voorsitter van Sektor 4, sê die heining aan die suidelike kant van die kleinhoewe is geknip. Die drie verdagtes is vermoedelik deur ‘n leë erf tot by die huis waar hulle die gesin aangeval het. Planke van ‘n houtdeur is uitgehaal en ‘n traliehek is daarna oopgebreek om toegang tot die huis te verkry. Ansie verduidelik die houtdeur was wel stukkend en deur hulle reggemaak terwyl die eienaar vir versekering gewag het en sê die planke is seker bloot net uitgestamp.
Buiten steek- en snywonde het die booswigte, soos voorlopig vasgestel kon word, met ‘n televisie, selfone, en ‘n speletjiemasjien, asook klere, weggekom.
Van Vuuren sê die aanvalle is kommerwekkend, aangesien daar reeds meer as 10 aanvalle sedert Oktober 2023 is. Hy het ‘n oproep van die aanval ontvang en is daarheen. Nooddienste is ook na die toneel ontbied. Die beseerdes se steekwonde is eers op die toneel behandel voordat hulle na ‘n hospitaal vervoer is.
Van Vuuren is van mening meer polisie-hulpmiddele moet vir die landelike gebied toegeken word waar tans kleinhoewe-eienaars, sowel as huurders woon. Die gebied het plakkerskampe en ook maklike toegang- sowel as wegkomroetes.
“Hulle sny doodluiters een kleinhoewe se drade, beweeg deur nog een net om by die derde een misdade te pleeg.”
Van Vuuren vertel daar is vroeër die aand ‘n verdagte voertuig in Kennethstraat opgemerk. Hy vermoed die verdagtes kon dalk saam met ‘n wagtende voertuig gewerk het, aangesien hulle goedere uit die huis geneem het en weer terug kon gaan. Toe die verdagtes volgens hom in die rigting van Kennethstraat gehardloop het, het hulle niks in hulle hande gehad nie.
Oop velde is deur Loyal Sekuriteitsdienste sowel as inwoners gefynkam. Van Vuuren bedank almal wat ter ondersteuning op die toneel teenwoordig was.
“Baie dankie vir almal se hulp saam met my op die toneel. Marius van Loyal Sekuriteit, gemeenskapslede, LifeGuard. Al die belwerk en ondersteuning, Charlene Booysen, Ricky Louw, Edna, Johan van Staden en Louisa – dankie baie.”
Met FiND iT se vraag oor al die voorvalle sê Van Vuuren: ” Ons probeer ons bes en gee ons bes. Mense lewe in erge vrees in die area. Maar die grootste vrees vir my is die gemeenskap en hulle lewens.”
FiND it het vir polisiekommentaar en kommentaar van Yvonne Dzuma, die DA-raadslid van die area gevra.
Intussen is ‘n BackaBuddy-profiel om die familie by te staan om te kan trek, geskep.
https://www.backabuddy.co.za/stephenie-venter-5805118382284840733
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel



