Bejaarde van kleinhoewe-aanval sterf

Deel hierdie storie / Share this story

GAUTENG. – Rassie Smith (69) is op 12 Desember, omstreeks 01:45, tydens ‘n huisroof op ‘n kleinhoewe in Niemandstraat, Andeon in die kop geskiet.

Elzitha Schoeman, sy skoondogter, het aan FiND iT bevestig hul pa, Rassie (Erasmus Petrus Smith) is op 19 Desember in die intensiewesorgeenheid van Kalafong-hospitaal oorlede.

Elzitha, wat met Rassie se seun getroud is, het hierdie spesiale boodskap van die familie vir die afgestorwene gedeel:

“Mis my – maar laat my gaan

Hier aan die einde van my lewenspad
het die son vir my finaal gesak
Maar moenie huil en treur oor my
O nee, wees bly : my siel is vry!
Mis my n rukkie – maar nie vir lank,
met kop omhoog en geen hartseer klank.
Onthou hoe het ons liefde ons lewenspad gebaan,
Mis my – maar laat my gaan.
Hierdie pad moet ons elkeen stap,
en alleen moet ons elk die tog aanpak.
Dit alles is deel van God’s meesterplan,
op pad na waar die ewige die tydelike vervang.
So wanneer julle eensaam en alleen voel,
laat vriende se liefde en troos julle oorspoel.
In goed doen aan ander kan geen droefheid bly staan,
Mis my – maar laat my gaan.”

Outeur onbekend

Rassie se verassingsdiens vind op 29 Desember om 12:00 by Koinonia Christensentrum in Van der Hoffweg, Pretoria Tuine, plaas.

Rassie laat sy lewensmaat Merle, sy broer Michael (80), sy seun Shaun en dié se vrou, met vier kinders en twee agterkleinkinders, asook sy dogter Angie met ‘n kleinkind, stiefdogter Natasha met drie kinders, ses kleinkinders en twee agterkleinkinders en sy stiefseun Kobus met vier kleinkinders agter.

AO Johan van Dyk sê Rassie en sy lewensmaat Merle het op die betrokke dag geslaap. Merle het wakker geword en twee mans by die voetenent van die bed opgemerk. Sy het geskree en Rassie het wakker geword. ‘n Verdagte het ‘n skoot geskiet wat Rassie in die linkerkant van sy kop getref het.

Die verdagtes het gevlug sonder dat iets gesteel is. Die Hercules-polisie ondersoek ‘n saak van huisroof.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel