Meer as 1 200 besighede het die afgelope jaar in SA gesluit

Deel hierdie storie / Share this story

LEES OOK: Ramaphosa verdedig Reserwebank te midde van rentekoersverhogings

Data wat deur Statistiek Suid-Afrika vrygestel is, het aan die lig gebring dat meer as 1 200 ondernemings vanjaar hulle deure moes sluit.

Statistiek SA samel administratiewe inligting oor likwidasies in van die kommissie vir maatskappye en intellektuele eiendom en die departement van handel, nywerheid en mededinging. Terwyl die jaar se getalle steeds hoog is, toon die jongste statistieke egter ’n verbetering vanaf 2022.

“Die totale aantal likwidasies (die verkoop van bates en die gebruik van die opbrengs om krediteure en aandeelhouers af te betaal) het in September 2023 met 8,2% afgeneem vergeleke met September 2022,” het Statistiek SA gesê

In vergelyking met die derde kwartaal van 2022, het die aantal besighede wat gesluit het met 11% in die derde kwartaal van 2023 gedaal. Die eerste nege maande van 2023 het ook ‘n 13%-daling gehad in vergelyking met die eerste nege maande van 2022.

Die bedrywe wat die meeste geraak is, was landbou, jag, bosbou en visserye; mynbou en steengroef; vervaardiging; elektrisiteit, gas en water; konstruksie; handel, spyseniering en verblyf; vervoer, berging en kommunikasie; finansiering, versekering, vaste eiendom en besigheidsdienste; gemeenskaps-, maatskaplike, en persoonlike dienste.

James Vos, burgemeesterslid vir ekonomiese groei by die Stad Kaapstad, skets egter ’n ander ekonomiese prentjie vir die Wes-Kaap. Vos sê die stad se werkloosheidsyfer het afgeneem. “Volgens StatsSA se kwartaallikse arbeidsmagopname vir die tweede kwartaal van 2023 het Kaapstad 263 000 nuwe poste oor die afgelope jaar en 56 000 nuwe poste in die tweede kwartaal van 2023 alleen bygevoeg,” het hy gesê.

#Besighede #Sluit #Ekonomie #Afrikaans #Nuus

Bronne gebruik: Statistiek Suid-Afrika se verslag oor likwidasies en insolvensies (September 2023); IOL.