Lees ook: Mans in hegtenis wat hulle glo as polisiebeamptes voordoen
LONDEN. – Die Portugese polisie het Madeleine McCann se ouers om verskoning gevra vir die manier waarop hulle haar verdwyning hanteer het.
’n Afvaardiging senior beamptes het vroeër die jaar van Lissabon na Londen gereis waar hulle Gerry McCann ontmoet het. Hulle het om verskoning gevra vir hoe die speurders die saak ondersoek het en hoe hulle die familie hanteer het.
Madeleine het in 2007 spoorloos by ’n vakansieoord in die Algarve verdwyn. Sy is steeds nie gevind nie. Dieselfde jaar is Madeleine se ouers verdagtes in haar verdwyning gemaak deur speurders wat geglo het hulle het gelieg oor haar ontvoering en het haar liggaam weggesteek.
Die Portugese polisie het nou gesê hulle aanvanklike ondersoek is nie reg hanteer nie. Te min aandag is aan vermiste kinders gegee en die feit dat haar ouers buitelanders was in ‘n gebied wat hulle nie verstaan het nie, is nie waardeer nie.
’n Duitse man, Christian Brueckner (46) is nou ’n verdagte in die moontlike moord op Madeleine. Hy het in die gebied gebly toe Madeleine verdwyn het en het ’n geskiedenis van geweld.
Nog geen aanklagtes is teen hom gebring nie.
Bronne: BBC, The Guardian, The Telegraph
Lees ook: Mans in hegtenis wat hulle glo as polisiebeamptes voordoen



