NOORDWES. – Jaco Wessel Kemp (35) en Louis Coetzee (35) is deur die Brits-landdroshof borg geweier nadat hulle as verdagtes vir die moord op Dumisani Phakathi (45) in hegtenis geneem is. Gert Frederik van der Westhuizen (38) is wel borg van R5 000 toegestaan en moet elke Maandag, Woensdag en Vrydag by die polisiestasie rapporteer.
Lumka Mahanjana, woordvoerder vir die NVG, sê Kemp en Coetzee is op 17 September deur die polisie voorgekeer terwyl hulle op die R511 in die rigting van Brits in ‘n bakkie onderweg was. Toe die bakkie deursoek is, is die liggaam van Phakathi glo raakgesien waar sy bene onder bebloede vullissakke uitgesteek het. Die liggaam was glo ook met bloed besmeer en daar was ‘n plastieksak oor sy kop.
Die twee verdagtes is in hegtenis geneem. Van der Westhuizen het homself op 19 September aan die polisie oorgegee.
Kemp en Coetzee het in die hof aangedui dat hulle op die aanklagtes teen hulle onskuldig gaan pleit en het as broodwinners van hul gesinne vir borg gevra.
Octavia Pletschke, aanklaer van die distrikshof, het borg teengestaan en sers. Sebotjane, die ondersoekbeampte in die saak, se verklaring op rekord geplaas. Die verklaring het gesê hoe die beskuldigdes aan die beweerde misdaad gekoppel is. Daar is aangevoer hulle is in hegtenis geneem ongeveer 60 km van waar die oorledene vermoedelik vermoor is. Hulle wou volgens die OB-verklaring dit onmoontlik maak dat die oorledene se liggaam gevind of geïdentifiseer word.
Verder is aan die hof voorgehou die twee verdagtes kan moontlik die verhoor ontwyk, met getuienisse inmeng of bewysstukke versteek of vernietig, aangesien hulle dit glo reeds probeer het. Pletschke het ook vir die hof gesê borg aan die beskuldigdes sal die publiek se vertroue in die reg ondermyn.
Landdros Rosenburg het ingestem en borg geweier. Die saak is vir verdere ondersoek tot 13 Desember uitgestel.
FiND iT het voorheen soos volg berig:
BRITS. – Gert van der Westhuizen (39) het Woensdag as mede-beskuldigde vir beweerde moord in die Brits-landdroshof verskyn. Hy het borg van R5 000 ontvang en sal weer saam met die ander twee verdagtes op 26 September in dieselfde hof verskyn.
Lt.kol. Amanda Funani het aangedui hy is vroeër vandeesweek in hegtenis geneem nadat die liggaam van Dumisani Phakathi (45) na bewering Sondagoggend deur twee polisielede agter op ‘n bakkie waar dit versteek was, gevind is. Die oorledene is glo aangerand nadat hy water op die mans se plaas wou gaan haal.
Die twee insittendes van die bakkie, ‘n NP 200, genaamd Louis Coetzee (47) en Jaco Kemp (45), is tydens die ontdekking van die liggaam vir beweerde moord in hegtenis geneem en het reeds in die hof verskyn. Hulle saak is tot 26 September uitgestel om ‘n formele borgaansoek aan te hoor.
Hulle sal na verwagting vandag vir ‘n klagte van moord in die Brits-landdroshof verskyn.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel



