HOEDSPRUIT, LIMPOPO. – Die polisie en plaaswag van Hoedspruit het Woensdag, nadat ‘n beweerde transitorooftog plaasgevind en ‘n sekuriteitswag noodlottig gewond is, vier van die beweerde rowers doodgeskiet. Die volgende dag is van hulle vermeende makkers vasgetrek.
Kol. Malesela Ledwaba sê lt.genl. Thembi Hadebe, die provinsiale kommissaris, prys die samewerking van polisie en die plaaswag wat tot die sukses gelei het.
Na bewering het ‘n groep onbekende verdagtes die kontantwa aangeval, ‘n sekuriteitswag noodlottig beseer en ontwapen en daarna met kontant wat gebuit is, in drie motors gevlug.
Die polisie en plaaswag is dadelik gemobiliseer en het die beweerde verdagtes langs die pad opgemerk. In ‘n poging om die verdagtes voor te keer, is daar op hulle geskiet, waarna daar teruggeskiet is.
Vier beweerde verdagtes is in die skietery dood en ander het die bosse in gevlug.
Die volgende dag het van die vlugtende verdagtes glo ‘n minibustaxi na Acornhoek geneem, waarna hulle deur vasberade polisielede en plaaswaglede in hegtenis geneem is. Hulle het van die vermoedelik gesteelde kontant, ‘n geweer en ‘n pistool in hulle besit gehad.
Een van die verdagtes is ‘n voortvlugtende persoon van Mosambiek, wat vir ‘n beweerde reeks misdade gedurende 2022 in die Vrystaat gesoek word. Dit sluit onder meer die moord van ‘n polisiebeampte in.
Die verdagtes sal na verwagting in die Hoedspruit-landdroshof verskyn sodra hulle uit ‘n hospitaal, waar hulle onder polisiebewaking is, ontslaan word.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel



