Egpaar op gewilde lodge aangeval

Deel hierdie storie / Share this story

Gert en Celia Scheepers, die eienaars van Dube Lodge, ‘n privaat wildreservaat buite Brits, in Noordwes, is vroeg Dinsdagaand, na 19:00, in ‘n plaasaanval beseer. Gert Scheepers is kritiek beseer.

Die egpaar, wat nie meer jonk is nie, is aan FiND iT se verslaggewer bekend.

Die onbekende aantal booswigte het drade geknip om toegang tot die perseel te verkry.

Scheepers het in Februarie ‘n nuwe sekuriteitsmaatskappy, genaamd PPS Sekuriteit, aangestel. ‘n Sekuriteitswag is deurentyd op die perseel om die woning op te pas.

Die voorval het glo plaasgevind kort nadat Gert Scheepers ‘n tweede klomp werkers na Letlhabile weggeneem het na ‘n dag se werk.

Die sekuriteitswag wat aan diens was het glo “iets” by die woning gehoor en drie skote afgevuur. Die booswigte het weggekom met geld, ‘n selfoon en ‘n groot televisiestel.

Gert Scheepers is na bewering met ‘n ystervoorwerp aangerand en het glo ernstige breinbeserings opgedoen. Celia Scheepers het probeer terugbaklei. Alhoewel sy eers in ‘n hospitaal op Brits was, is sy nou in dieselfde mediese fasiliteit as haar man, wie se kop vergruis is.

HEMS het hulle na ‘n oproep na die toneel wat op ‘n grondpad tussen ander lodges geleë is, gehaas. Met aankoms op die perseel is twee beseerdes, ‘n man en sy vrou, gevind. Een persoon het ernstige beserings opgedoen en is op die toneel behandel voordat beide vir verdere mediese behandeling na ‘n hospitaal op Brits geneem is. Die man is weens die erns van sy beserings na ‘n hospitaal in Pretoria geneem.

Polisiekommentaar word afgewag.

Bron: Anoniem

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel