Nog ‘n boer is Vrydagmiddag om ongeveer 17:00 in Roedtan, Limpopo, doodgeskiet.
Hendrik Hattingh van die Heritage Protection Group (HPG) sê op hul Facebook-blad vyf verdagtes het na bewering Vrydagmiddag met ‘n wit Toyota Corolla op die plaas aangekom, ‘n jong man wat hulle op die plaas aangetref het oorrompel, hom onder dwang die huis inforseer en daarna vasgebind.
Die plaasboer en sy lewensmaat het glo kort nadat die jongman oorval is by die huis opgedaag. Vier van die verdagtes het glo uit hulle voertuig geklim en die paar met ‘n wapen die huis ingedwing.
Na bewering is die paar soos die jongman vasgebind en in verskillende vertrekke gelaat. Die verdagtes het geld en vuurwapens geëis, waarna die boer geskiet is. Die aanvallers het hierna met selfone en vuurwapens wat hulle gebuit het van die plaas gevlug.
Saterdagoggend om ongeveer 07:00 het ‘n plaaswerker opgedaag vir werk en die vrou se hulpkrete gehoor. Die werker het die vrou en jong man losgesny, waarna hulle na die bure gejaag het vir hulp. Hulle moes klaarblyklik ook na die polisiestasie op Roedtan ry om die misdaad te rapporteer omdat hul selfone gesteel was.
Die verdagte voertuig se registrasienommer is bekend en eienaarskap kon vasgestel word.
Die boeregemeenskap, polisie op Roedtan, HPG Mokopane en Basoppa-sekuriteit werk saam om die verdagtes aan te keer.
Volgens Hattingh volg die speurders van Roedtan wat met die saak gemoeid is goeie leidrade op.
Ian Cameron van ActionSA het die skietvoorval op sy Facebook-blad geplaas, met vele dreigemente van ‘n sekere individu genaamd Monare Maabane Makofane wat dreig dat hierdie slegs die begin is.





FiND iT Nuus het die polisie in Limpopo gekontak vir kommentaar.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



