Motoriste gooi glo ‘pille’ in motors om brandstof te bespaar

“Die enigste manier om verligting vir motoriste tydens hierdie brandstofkrisis te bring, is deur die brandstofheffing van 33% te skrap en die brandstofprys te dereguleer om koste te verlaag,” sê die DA.

Die DA-woordvoerder oor gemeenskapsveiligheid in die Wes-Kaap, Ricardo Mackenzie, waarsku alle motoriste om versigtig te wees vir voertuigtoestelle wat in voertuie geïnstalleer word, soos magnete en lugvloeiwysigers en brandstofbymiddels wat in petroltenks gegooi word met die doel om geld op brandstof te bespaar.

‘n TikTok-video word wyd op sosiale media versprei waarin motoriste “pille” in hul petroltenks gooi om moontlik brandstof te bespaar.

In een video sit ‘n vrou ‘n bruin pil in haar voertuig se tenk, voordat die petroljoggie die tenk by ‘n vulstasie volmaak, waarna sy dan verduidelik dat sy ‘n pil in haar motor gooi voordat sy hom laat volmaak.

Jy kan glo dié pil vir slegs R100 koop.

“Dit verhoog ook die enjin- en werkverrigting,” sê sy.

Dit is egter nie so nie, waarsku die DA.

“Baie van hierdie brandstofbesparende toestelle is deur Sasol se brandstofnavorsingsfasiliteit in Kaapstad geëvalueer, wat ontdek het dat daar slegs ‘n verskil van 0,5% in brandstofverbruik is, wat daarop dui dat hulle ondoeltreffend is.

“Terwyl die prys van brandstof vir die meeste Suid-Afrikaanse motoriste ondraaglik word, moedig ek alle bestuurders aan om waaksaam te wees voor hulle hierdie wysigers by hul voertuie voeg. Daar is bewys dat hierdie wysigings van baie min nut is en tot uitgebreide en onherstelbare skade aan voertuie lei, wat versekeraars nie sal dek nie.

“Die enigste manier om verligting vir motoriste tydens hierdie brandstofkrisis te bring, is deur die brandstofheffing van 33% te skrap en die brandstofprys te dereguleer om koste te verlaag,” sê die DA.

Jy kan hier na die omstrede TikTok-video kyk: https://vm.tiktok.com/ZMNkpAnRy/

Skrywer:

Leave a Reply

Your email address will not be published.