Ma wat glo dogters vermoor nie by hofverskyning

Lauren se verhoor is geskeduleer om in  Maart 2023 te begin.

Die Suid-Afrikaanse ma wat teregstaan vir die moord op haar drie dogtertjies, word steeds in die psigiatriese eenheid van ‘n hospitaal in Christchurch behandel.

Lauren Dickason (40) moes Vrydag in die hooggeregshof voor regter Cameron Mander verskyn, maar was op advies van ’n mediese deskundige weereens afwesig van die hooggeregshofverrigtinge.

Haar advokaat, Kerryn Beaton QC, het namens haar verskyn.

Regter Mander het gesê Dickason word steeds behandel en haar geneesheer het gesê dat dit nadelig kan wees om haar in hierdie stadium aan die hof bloot te stel. Sy sal minstens tot 22 Junie in aanhouding by die eenheid bly, berig Stuff.co.nz, ‘n digitale platform in Nieu-Seeland.

Dickason, ’n mediese praktisyn, haar man Graham, en hul drie dogtertjies – ‘n tweeling, Maya en Karla (2), en hul ouer suster Liané (6) – het in Augustus 2021 van Suid-Afrika na Nieu-Seeland verhuis.

Daar word beweer dat Lauren die drie dogtertjies op 16 September vermoor het, sowat ‘n week nadat die gesin by ‘n eiendom in Queen St, Timaru ingetrek het.

Graham, ‘n ortopediese chirurg, het hulle dood aangetref toe hy omstreeks 22:00 by die huis aangekom het, nadat hy saam met kollegas by ‘n restaurant geëet het.

Sy vrou het die volgende dag in die Timaru-distrikshof verskyn op aanklagte van die moord op haar drie dogters. Sy het onskuldig gepleit.

Lauren se verhoor is geskeduleer om in  Maart 2023 te begin.

Skrywer:

Leave a Reply

Your email address will not be published.