‘Ek is op 16 verkrag en het verkies om my verkragter se kind grootmaak’

(Foto per illustrasie, Unsplash)

(Foto per illustrasie, Unsplash)

‘n Anonieme leser vertel van die verskriklike dag wat sy as 16-jarige verkrag is, hoe sy moes uitvind sy verwag haar verkragter se baba en hoe sy nou, jare later, nie eers aan haar verkragter dink wanneer sy haar oulike, 15-jarige seun sien nie.

“My ouers het geskei toe ek 13 jaar oud was. Ek was in my ma se sorg geplaas en weens omstandighede het ek skool gegaan én twee werke gehad. Om my siek ma te ondersteun en te help, moes ek vroeg grootword. Ek was nie baie gelukkig met die egskeiding nie en het net my eie kop gevolg.

“Op my 16de verjaarsdag was ek verkrag. Ek het dadelik my broer gebel en hy het die polisie ontbied, wat my na die polisiestasie geneem het. My verklaring is daar geneem.

“Ek is deur n speurder vergesel na die naaste kliniek vir bewyse en pille. Ek het 30 S5 HIV-pille gekry om te voorkom dat ek vigs kry. Ek het ook ‘n pilletjie by hulle gedrink om te keer dat ek nie swanger raak nie ek moes nog so ‘n pil die volgende oggend om 08:00 drink, wat ek gedoen het.”

“Maar ek het anders gevoel,” vertel sy. “My liggaam het anders gevoel. Ek het toe later uitgevind ek verwag. Ons was almal geskok, want hoe?”

“Ek is ondersoek en die bewyse het getoon dat ek my verkragter se baba verwag.”

Sy vertel sy het maandeliks ‘n dokter besoek en toe sy 12 weke swanger was, wou die dokters hê dat sy ‘n aborsie moes laat doen. “Hulle het gesê my baba sou my elke dag van my lewe herinner aan wat gebeur het.”

“Ek kon net nie. Ja, ek was 16, maar al daai pille en hier is ‘n baba. Dis vir seker ‘n baba wat ek moes hou.”

Sy sê sy probeer egter nie sê almal wat in sulke omstandighede swanger word, moet hulle babas hou nie.

“Ek het my verkragter geken, maar dit het nie ‘n verskil gemaak nie. Ek’t vir my baba baklei.”

“Ek was vier maande swanger toe ons deur ‘n Nigeriër aangeval is. Hy met my aanhoudend in die maag geslaan met ‘n tuinvurk, maar my baba het gebly.”

“Ek het op 16-jarige ouderdom geboorte gegee aan die mooiste seuntjie. Vandag is hy amper 15 jaar oud en hy laat my nie een dag dink aan wat gebeur het nie.”

Sy vertel wat haar egter nou, na al die jare, gevang het, is dat sy nooit met ‘n sielkundige gepraat het oor wat gebeur het nie. “Ek is onlangs met ‘n verskeidenheid dinge soos depressie en angstigheid gediagnoseer as gevolg daarvan.”

Na sy haar seun gehad het, was sy in ‘n stabiele verhouding met ‘n man by wie sy haar dogter verwag het. “Drie jaar later was ek weer swanger. Ek het dit vermoed, maar nie geweet nie. Daardie Woensdag het ek vir hom gesê ek dink ek verwag. Hy wou my nie glo nie en die volgende oggend het ek wakker geword en ‘n nattigheid op ons bed gevoel. In erge pyn het ek tot by die kar geloop.”

“Ek het iets by my onderklere voel uitval. Ek het net daar gesit en my eie baba op die grasperk gevang. Met alles in my het ek my baba probeer red, maar ek kon nie. My baba was doodgebore.”

Sy vertel sy het daarna ook nie vir berading gegaan nie, en dat sy maar self moes leer om met die pyn saam te leef.

“My raad aan meisies wat dalk ook deur so iets gaan of gegaan het, is om te praat. Ek smeek julle, praat. Maak nie saak hoe hy/sy sê jy moet niks sê nie, asseblief praat. Dit vreet jou van binne. Sê vir iemand, vra vir hulp, moenie dat hulle jou afpers en op jou trap nie. Moenie stilbly nie. Ek het oor my verkragter nie stilgebly nie. Al het hy my aangeval en gedreig hy kom terug as ek iemand sê, het ek steeds daai oproep gemaak.”

“Praat met iemand, sê vir hulle hoe jy voel, skryf dit neer, maar kry dit uit en moenie dit inhou nie. Daar’s ‘n groot toekoms wat vir jou as dogter of vrou voorlê.”

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.

Leave a Reply

Your email address will not be published.