Kerkleiers ontsteld oor nuwe Covid-reëls vir gemeentelede

Deel hierdie storie / Share this story

Verskeie kerkleiers het kort voor die Paasnaweek hul verontwaardiging en ontsteltenis uitgespreek oor die voorwaardes wat Dinsdag deur die regering aangekondig is, naamlik dat van gemeentelede vereis sal word om bewys te lewer van inenting by ingang of ‘n Covid-19-toetsuitslag nie ouer as 72 uur nie, te toon. 50% van ‘n lokaal se kapasiteit kan op dié manier vir byeenkomste gevul word.

Versuim om aan voorwaardes te voldoen, is ‘n misdryf wat sal lei tot ‘n skuldigbevinding, met ‘n boete of gevangenisstraf vir ‘n tydperk van hoogstens ses maande of albei.

Die kerkleiers het gesê hulle kan nie sê of hul lidmate aan die nuwe regulasies sal voldoen voordat hulle nie ‘n uitklaring hieroor by President Ramaphosa gehad het nie.

Die reaksie is gelei deur die Internasionale Federasie van Christelike Kerke (IFCC) wat Grace Bible Church, Rhema Bible Church, Hope Restoration Ministries en Rhema Umtata Christian Church verteenwoordig.

Die federasie het die stap beskryf as die “inglip” van verpligte inenting deur die “agterdeur”.

Tyrone Seale, Ramaphosa se waarnemende woordvoerder, het gesê kerke kan ‘n vergadering met die president versoek om hul griewe te lug.

Bronne: Sowetan LIVE, MSN

Volg FiND iT hier.

Lees ook: Pretoria-bestuurder bots teen elektrisiteitspaal na moontlike mediese toeval