Hulpfonds vir André Pienaar gestig na Senekal-proteste

Deel hierdie storie / Share this story

‘n Hulpfonds is vir André Pienaar gestig om hom by te staan om tronkstraf vry te spring. Dié hulpfonds staan reeds teen publikasie op oor die R130 000.

Willem Petzer, voorsitter van die Taxpayers’ Union of South Africa, het dié fonds gestig en doen ‘n beroep op Suid-Afrikaners en veral boere om saam te staan en Pienaar by te staan.

Petzer sê die fonds sal Pienaar, sowel as ‘n ander man, help nadat hulle “soos terroriste” vervolg word op sewe ernstige klagte.

Na afloop van die Senekal-proteste word André Pienaar, sowel as ‘n ander man, vervolg soos terroriste op niks minder nie as sewe verskillende ernstige klagtes.

Pienaar staar tans sewe aanklagte teen hom en vyf jaar tronkstraf in die gesig, ná hy op 6 Oktober 2020 by die optog teen plaasmoorde op Senekal gearresteer is.

LEES OOK: André Pienaar: ‘Hulle wil ’n voorbeeld van hom maak.’

Pienaar word onder meer van brandstigting, openbare geweld, poging tot moord, beskadiging van eiendom en aanranding met die doel om ernstig te beseer, aangekla.

Die optogte het by die verskyning van die verdagtes op die moord van Brendin Horner plaasgevind. Die moord op die 21-jarige Horner het verlede jaar wêreldwyd opslae gemaak. Horner is in ‘n veld met ‘n tou om sy nek aan ‘n paal vasgemaak op ‘n plaas naby Paul Roux gevind.

Intussen is die twee verdagtes vir sy moord vandag vrygespreek en sal nou slegs teregstaan op aanklagte van veediefstal.

LEES OOK: Sleutelgetuie glo deur polisie gedreig

Petzer sê die staat het ‘n massiewe saak oopgemaak met ‘n totaal van 45 staatsgetuies. Volgens regskenners gaan die saak ten minste 25 dae duur.

“Indien hulle ‘n goeie regspan aanstel, sal die regskostes neerkom op ongeveer R40 000 per dag. Dus lyk André se saak of dit alleen oor ‘n miljoen rand gaan kos om te verdedig.

“Ek, Willem Petzer, het besluit om ‘n regsfonds vir hulle te begin. Hierdie fonds sal alles in my persoonlike prokureur se trustrekening inbetaal word. Ons sal dan hierdie geld aanwend om die beste regspan wat ons kan bekostig te kry om hulle te verdedig. Indien daar enige fondse oorbly, sal dit gebruik word om, as André tronk toe gaan, sy vrou en sy dogtertjies te onderhou. Indien ons hom kan laat vryspring van tronkstraf, en daar bly nog steeds fondse oor sal die res van die geld aangewend word vir niewinsgewende werk waarmee Willem Petzer geaffilieer is,” sê Petzer.

“Nou is die tyd om saam te staan. Kom ons ondersteun hierdie gesinne in nood!”

As jy wil bydra tot die fonds, klik hier.