Piet Els-plaasaanval verhoor gaan voort

Deel hierdie storie / Share this story

In diepte besonderhede oor die wrede aanval op Piet Els (86) en Rikkie Alsemgeest (62) het vandag in die hooggeregshof hier aan die lig gekom.

Els en Alsemgeest, albei bekende sakelui van Kimberley, is die aand van 23 Januarie 2018 op Els se plaas net buite Kimberley aangeval. Els was vir sowat vier maande ná die aanval in die hospitaal voor hy aan sy beserings beswyk het.

Els en Alsemgeest was saam op die plaas toe die aanvallers toegeslaan het. Alsemgeest en Els is vasgebind en met ’n strykyster gebrand, voor die aanvallers met ’n Mercedes Benz, ’n 33-30 jaggeweer, ’n pistool, drie arm-horlosies, Kruger-rande en ’n ring gevlug het.

Morapeli Rankali (28), Motlalentwa Qhautse (37), Jabulani Wilson Zuma (61), Libeth Ndlala (56), Samson Mbokane (63), Themba Lawrence Maja (68) en Jeffrey Mahomane (44) is in verband met die voorval in hegtenis geneem. Al sewe verdagtes het vandag in die hof verskyn. Al sewe het onskuldig op aanklag van aanranding en moord gepleit.

Johan Immelman, ’n dokter wat al van 2005 in Kimberley praktiseer, is vanoggend as eerste getuie opgeroep.

Hy het getuig oor die beserings wat Alsemgeest tydens die aanval opgedoen, het sowel as die behandeling wat hy aan haar in Mediclinic Gariep verskaf het. Immelman het getuig Alsemgeest is seksueel aangerand.

“Daar was merke aan haar borste. Daar was ’n snymerk aan haar bobeen, wat konsekwent is met haar getuienis dat haar klere met ’n mes afgesny is. Sy het ook yster-brandmerke oor haar liggaam en op haar kop gehad.”

Sers. Izak Jantjies, wat die eerste lid van die polisie was wat op die toneel aangekom het, sê beide slagoffers was nog in die huis toe hy op die plaas aankom.

“Meneer Els se seun was reeds op die toneel toe ek daar aankom. Meneer Els het op sy rug op die bed gelê. Mev. Alsemgeest het by hom op die bed gesit.”

Jantjies het die toneel aan ao. Barnard Sebegilwe oorgegee, wie om 06:10 na die toneel ontbied is.

Ao. Sebegilwe, ’n speurder by die polisie se georganiseerde misdaadeenheid in Kimberley, het getuig die eerste ding wat hy op die toneel ervaar het, was ’n sterk reuk as gevolg van die kluis wat oopgeslyp is.

Sebegilwe het die toneel aan die forensiese ondersoekers oorgegee.

Daar is ook tydens die verhoor genoem dat Els se wit Mercedes later verlate op die Barkley-Wes-pad gevind is.

Adv. Hannes Cloete en Anel Stellenberg kla aan. Adv. Japie Schreuder verskyn vir Rankali en Maja. Adv. Renier Pietersen verskyn vir Ndlala, Mahomane en Mbokane. Adv. Themba Diba verskyn vir Qhautse en Adv. Chandre Booysen verskyn vir Zuma. Rankali, Ndlala, Maja en Mbokane is uit op borg.

Die verhoor gaan môre om 09:00 in die hooggeregshof voort.