Namakwalandse matrikulante onderteken eed teen oneerlikheid

Deel hierdie storie / Share this story

“Die departement verwag van elke graad 12-leerder om eerlik te wees en hulle eie werk te doen gedurende die 2021 Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen.”

LUR Zolile Monakali onderteken die eed. Foto: Isaac Cloete

Matrikulante het onlangs ‘n eed onderteken om te wys hulle gaan eerlik in die eksamen wees.

Die verrigtinge het Vrydag by die Hoërskool Steinkopf in Namakwaland plaasgevind.

Die LUR van onderwys in die Noord-Kaap, Zolile Monakali, was die hoofgas en -spreker. Hy het gesê:

“Vir baie van julle is dit die einde van julle 12 jaar skoolloopbaan, maar soos ons weet, is opvoeding ‘n lewenslange aktiwiteit en volgende jaar begin die volgende fase in julle lewensreis aan tersiêre inrigtings.”

Ander persone behalwe die ouers wat die geleentheid bygewoon het, was Mervin Cloete, uitvoerende burgemeester van die Namakwa-distriksmunisipaliteit en Riaan Cloete, burgemeester van Nama Khoi-munisipaliteit. Geestelike leiers, raadslede, asook hoofde en amptenare van staatsdepartemente was teenwoordig.

Monakali  het voorts gesê: “Die departement verwag van elke graad 12-leerder om eerlik te wees en hulle eie werk te doen gedurende die 2021 Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen. Die klas van 2021 moet hulle weerhou van enige onreëlmatighede en die volgende onthou tydens die eksamen:

* Geen selfone nie

* Die afskryf van notas of  handboeke of enige ongemagtigde materiaal is verbode en taboe

* Alle bylae soos vir byvoorbeeld wiskunde moet ingehandig word

* Skryf jou korrekte eksamennommer neer

* Sit op jou regte plek in die eksamenlokaal, soos aangedui op die sitplan

Ten slotte het hy leerders aangemoedig om hard te werk, groot te droom en nie maklik moed op te gee nie.

By dieselfde geleentheid het die skoolhoof van Hoërskool Steinkopf, Nikodémus Vries, gesê: “Die skool het ‘n baie trotse tradisie ten spyte van swaar finansiële druk die afgelope jare. Ons het egter nog nooit voorvalle van eksamen-onreëlmatighede gehad nie. So, leerders, hou dit so.”