September 27, 2021

Familie op hulle knieë na Isabella (1) aan fyn gedrukte neut verstik

“Om te sien hoe ‘n gemeenskap saamstaan, is iets besonders.”

Familie op hulle knieë na Isabella (1) aan fyn gedrukte neut verstik

Familie op hulle knieë na Isabella (1) aan fyn gedrukte neut verstik Foto: Verskaf

“As mense klein Isabella sien, sal hulle sien sy ’n juweel. Dit breek ons om haar so te sien. Die familie het twee dae laas geslaap.”

Isabella Stark, een jaar oud, is in ‘n mediese koma nadat sy Maandagoggend geval en aan ‘n fyn gedrukte stukkie neut verstik het. Haar liggaamstemperatuur word tans baie laag gehou om swelling te voorkom en haar brein en longe te laat herstel.

Athol Stark, woordvoerder van die familie, vertel van die fratsongeluk wat gelei het daartoe dat die hele familie se wêreld omvergegooi is.

Isabella het die oggend in die huis gesit en klein stukkies neute geëet. Dit is nie die eerste keer wat sy aan stukkies neute peusel nie en is altyd onder toesig wanneer sy eet. “Die betrokke dag het Isabella net haar vingertjies is haar mond gesteek met stukkies neute toe sy val. Soos enige ander kind het sy haar asem teruggetrek om te huil. Dis toe sy aan die neut verstik het.”

Athol vertel hy het sy vinger in haar keel gedruk met die hoop dat sy die stukkie neut wat moontlik vassit sou opbring. Na ‘n minuut se gesukkel het hy CPR begin toepas.

“Joshua, Isabella se pa wat by die werk was, is dadelik gekontak. Hy het vlak drie in noodhulp. Binne minute was hy by ons en hy het die CPR oorgeneem.”

“Die gesig van ons kind het ons magteloos gelos.”

sê Athol

Na ‘n gesukkel het die familie, pajamas en al na die Ermelo- provinsiale hospitaal gejaag. Die familie het nie meer ‘n mediese fonds nie, aangesien Josh sy werk in die toerismebedryf tydens die inperking verloor het. Hy het onlangs eers weer landboutoerusting begin verkoop. Athol vertel self hy, gesiene man in die toerismebedryf in Mpumalanga, het verskeie besighede toegemaak na finansiële druk as gevolg van die pandemie.

“Daar is aan ons familie gesê Isabella sal nie die nag in die hospitaal oorleef nie, aangesien hulle nie die nodige toerusting in die hospitaal se intensiewe eenheid het om na so ‘n klein kind te kyk nie. Sy was toe reeds op ‘n masjien om vir haar asem te haal.”

Die familie het besef Isabella sal na ‘n hospitaal met die nodige toerusting geskuif moet word. “Die dokter was vyf ure op die telefoon om ‘n beskikbare bed in ‘n ander staatshospitaal te kry. Niemand kon vir ons antwoorde gee nie.”

Die enigste uitweg was om Isabella per helikopter na ‘n hospitaal in Johannesburg te kry. Volgens Athol was dit toe al 15:00 die middag en die staatshospitaal se helikopter kon nie help nie, aangesien hulle net tot ‘n sekere tyd vlieg.

VOLG ISABELLA SE STORIE OP FACEBOOK HIER.

Hulle het nou duisende rande nodig gehad vir ‘n privaat helikopter om haar te vervoer. Nuus oor die fondsinsameling is intussen wyd deur ‘n ANC-raadslid rondgestuur. Dis toe die eerste wonderwerk die familie tref.

“’n Vrou, wat van Isabella se voorval gehoor het by iemand uit Engeland, het my gekontak. Sy het gevra wat het ek nodig en ek het gesê ons eerste prioriteit is om Isabella per helikopter te laat vlieg. Sy het die telefoon neergesit en binne 10 minute is ‘n groot bedrag oorbetaal wat bygedrae is tot die kostes van die helikopter.”

Athol raak emosioneel wanneer hy vertel van die wonderwerke wat hulle eerstehands tydens die tyd beleef het. “My vrou se broer, ook mediese dokter, het gebel. Hy het ons laat weet hy is ook op pad na die hospitaal in Johannesburg. Daar het hy honderde duisende rande vooruit vir haar mediese sorg betaal.”

Geld het ook begin instroom in die trustfonds wat by die prokureurs geskep is. “Ons moes geld bylas omdat die helikopter haar in die donker moes vlieg, maar met God se genade was daar reeds genoeg geld in die trust.”

Joshua en Monica, Isabella se ma, kon nie saam met die helikopter vlieg nie en moes na die hopsitaal ry.

By die hospitaal is Isabella dadelik in teater toe sodat die spesialis die stukkies neute wat toe in haar longe vasgesit het kon verwyder. Isabella was twee ure in die teater. Die dokter kon meeste van die neute uitkry. Sy het ook intussen longontsteking opgedoen, maar dit word met antibiotika behandel.

“Sy is nou in ‘n mediese koma en die dokters sal Vrydag weer haar liggaamstemperatuur verhoog en haar begin wakker maak.”

“Om te sien hoe ‘n gemeenskap saamstaan, is iets besonders. Gemeenskapslede het 1 800 hamburgers verkoop van die oggend tot die middag 15:00. Mense in die toerismebedryf wat self swaarkry, ondersteun ons finansieel in hierdie tyd.”

Athol vertel die rekeninge hou nie op nie en hulle maak staat op skenkings om die beste vir Isabella te gee. “Alhoewel ons bid, is die pad vorentoe onbekend. Haar hart het vir ‘n ruk gaan staan en sy was sonder suurstof.”

Hier volg alle inligting indien jy ‘n bydrae kan maak om die familie te ondersteun:

Pieter Stofberg Ingelyf Trust
Trustrekening
FNB
Ermelo
Takkode: 270344
Rekeningnommer: 62092150326
Verwysing: STA72/1

Volg FiNDiT hier vir die nuutste nuus.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *