September 27, 2021

Genade is al wat my deurgedra het

Roleen was vir 23 jaar ’n onderwyseres en het bedank toe sy en haar man, Scharl, ’n besigheid saam gekoop het. Sy is tans ’n intern in die eiendomsbedryf by Brunette Realtors en vertel sy geniet elke oomblik daarvan.

Genade is al wat my deurgedra het

Genade is al wat my deurgedra het

Roleen van Niekerk (47) glo aardetyd is deur en deur genadetyd vir ons elkeen. Roleen is al deur baie diep waters en sy vertel dit is die Here se genade wat haar deur hierdie donker tye gedra het.

Gebore op Bothaville, het sy in Maart 2000 na Barkly-Wes verhuis waar sy by Hoërskool Vaalrivier begin skoolgaan het. Sy het in 2016 na Kimberley verhuis.

Roleen was vir 23 jaar ’n onderwyseres en het bedank toe sy en haar man, Scharl, saam ’n besigheid gekoop het. Sy is tans ’n intern in die eiendomsbedryf by Brunette Realtors en vertel sy geniet elke oomblik daarvan.

“Ek het laat op die ouderdom van 30 getrou. Ek het ’n kits-mamma van drie pragtige tieners geword. Ek en my man, Gideon, het dadelik begin probeer vir ’n gesin en na vele miskrame het ons agt jaar later die ouers geword van ’n pragtige dogtertjie, Su-May (10).”

“Die Here het geweet wanneer ek haar die nodigste gaan kry. Su-May was amper twee toe ek my man aan longkanker verloor het. Sy was my ter-wille-van. Ek moes opstaan ter wille van haar om aan te gaan met die lewe.”

“My sussie het vir my ’n uitdaging gegee om elke dag vyf blessings neer te skryf. In die begin was dit baie moeilik, want hoe kan ek dankbaar wees as die Here my lewensmaat kom vat het? Ek het klein begin en vir klein goedjies dankie gesê. Dit het later van tyd my uitkyk op die lewe en ook ten opsigte van genade verander.”

Roleen het haar tweede man, Dirk Bester, ontmoet en die paartjie is in Augustus getroud. Dirk het in dieselfde jaar in Desember ’n hartstilstand langs Roleen in hulle bed gehad.

“Weereens het ek gestoei met die Here, want hoekom moes Hy vir ’n tweede keer my lewensmaat kom vat? Weer het ek probeer besef hoekom die Here vir my gekies het om die pad te stap.”

“Die ironie van die lewe is, ek is met my derde man, Scharl van Niekerk getroud. Hy is die wonderlikste man, wat dink ek is die mooiste vrou. Wat saam met my die Here loof. Hy het ook ’n baie moeilike pad gestap.”

Roleen sê genade is so ’n maklike woord om te sê, maar wanneer jy iemand verloor vir wie jy lief is en jy stap ’n pad saam met die Here, besef jy regtig wat is genade.

“Soms kom ’n mens in ’n situasie wat jy nie gekies het om in te wees nie, maar ten spyte daarvan kan ons kies om ’n verskil te maak te midde van die omstandighede! Hierdie journey wat die Here vir my gekies het, is een van daardie situasies waarin ek geplaas is, en alhoewel dit ’n bitter moeilike journey was, het ek geleer om te cope, te survive en nooit te twyfel in HOM nie!

“Ek het ’n rukkie terug in my stiltetyd die stuk gelees van Petrus wat op die water geloop het. Jesus het op die water geloop en Hy het vir Petrus opdrag gegee om na Hom toe te loop  op die water. Vir so lank as wat Petrus sy gedagtes gevestig gehou het op Jesus se opdrag ‘loop op water’ was hy heeltemal oukei.  Maar die oomblik wat hy begin besef het dit is eintlik ’n onmoontlike situasie waarin hy is, het hy bang geword en begin sink. 

“Ek loop nou op water, met my oë gevestig op God se beloftes. Ek kyk nie af na die water toe nie en ek laat nie toe dat my gedagtes my oortuig ek is besig om ’n onmoontlike journey te stap nie. Ek vertrou God.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *