Houtbaai-man wat gestrand was op Tafelberg is weer veilig

Deel hierdie storie / Share this story

KAAPSTAD.- Massimo Filante (29) die Houtbaai man wat Woensdag vermis geraak het en Donderdag op Tafelberg gevind is, is weer veilig en met sy ma herenig. Die reddingspanne moes die nag in onweer op Tafelberg deurbring om Filante, wat op die berg gestrand was, te red.

Volgens IOL het Masimo Filante (29) vermis geraak nadat hy Woensdag om 13:00 sy woning in Houtbaai verlaat het om op ‘n Myciti-bus na die V&A Waterfront te klim. Filante is glo ‘n introvert en lei aan sosiale angs. Die SAPD en ander sekuriteitsdiensverskaffers het Woensdagaand na Filante in beide Houtbaai en Kampsbaai gesoek.

Donderdagoggend het die Gemeenskapmisdaadvoorkomingsspan ‘n deurbraak gehad. Beeldmateriaal van kameras het bevestig dat Filante wel op die MyCiti-bus geklim het. Beeldmateriaal van Table Mountain Aerial Cableway (TMAC) het gewys dat daar ‘n persoon, wat Filante se beskrywing pas, in die stormweer op Tafelberg is.

Reddingspanne skuil by ablusieblok om Houtbaai-man op Tafelberg te red


Kaapstad ervaar tans stormweer en sal na verwagting vandag nog ontwrigtende rëen ontvang. Volgens die Gemeenskapmisdaadvoorkomingsspan is Armand du Plessis, ‘n ervare veldloper (trail runner), teen Tafelberg op om Filante te sê reddingspanne is op pad om hom te help.

Armand het by hom gekom, hom iets warm gegee om aan te trek en iets om te eet en te drink terwyl Wilderness Search and Rescue (WSAR), SANParke en metro-reddingswerkers op pad was om hom van die berg af te bring.

John Marais, woordvoerder van WSAR, sê weens die onweer het die reddingspanne besluit om die nag saam met Filante op die berg in ‘n ablusieblok te oornag. Daar is hy veilig en warm gehou tot die span hom weer veilig van die berg af kon kry.

Filante het vanogend saam met die reddingspanne met die kabelkar van Tafelberg afgekom.

Lees ook: Vrystaat-leeus gedwing om in haglike omstandighede te lewe