Familie desperaat vir antwoorde na koelbloedige moord

Die familie doen dus ’n beroep op enigeen wat meer inligting het oor Caydin se dood, om na vore te kom.

Familie desperaat vir antwoorde na koelbloedige moord (Foto: Verskaf)

Familie desperaat vir antwoorde na koelbloedige moord (Foto: Verskaf)

KIMBERLEY. – “Hy was nie ’n moordenaar wat mense loop en doodmaak of vrouens verkrag het nie. Hy was ’n human being. Hy was nie ’n hond nie, hy was ons kind. Hy het nie verdien om so vermoor te word nie en die moordenaars loop nog vry rond.”

So sê Jolene Miller van haar seun Caydin Miller wat op 26 Maart vanjaar koelbloedig vermoor is.

Die familie is desperaat op soek na antwoorde oor waarom Caydin daardie oggend doodgemaak is.

Laas om 01:00 gesien

FiND iT het voorheen berig Caydin was die oggend wat 26 Maart nog by die huis om sy identiteitsdokument te kry. Hy wou glo vroeg al by die ry in die poskantoor gaan staan om sy R350-toelae te kry. Sy niggie was by die huis. Hy het ’n vriend by hom gehad.

Daardie oggend, slegs ’n paar uur na hy by die huis was, het ’n speurder die familie tuis besoek om die nuus van Caydin se dood aan hulle bekend te maak. Jolene vertel sy was nie dié tyd in Kimberley nie en dat die familie haar met die nuus moes bel.

Met ‘n mes gesteek

Die familie moes later hoor Caydin is omstreeks 01:30 onder ’n boom agter die poskantoor in Kimberley vermoor. Hy is met ’n mes in sy nek gesteek.

Volgens Jolene wag die familie steeds op antwoorde oor sy dood en is hulle desperaat. Die familie doen dus ’n beroep op enigeen wat meer inligting het oor Caydin se dood, om na vore te kom.

“Nie eers ’n hond verdien om op so ’n manier te sterf nie. Caydin was ’n mens. Hy het beter verdien.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *