Tuisgemaakte tamatiesous – resep

Hierdie sous kan heeljaar gebruik word.

Tuisgemaakte tamatiesous - resep (Foto: Elsabe Carpenter, Resepte oud en nuut, Facebook)

Tuisgemaakte tamatiesous - resep (Foto: Elsabe Carpenter, Resepte oud en nuut, Facebook)

Hierdie staatmaker tuisgemaakte tamatiesous is heerlik saam met maalvleis, pasta of potjiekos.

Maak 2½ liter | Voorbereiding: 30 minute | Gaarmaaktyd: 90 minute

Hierdie sous word gebottel met ryp tamaties aan die einde van die seisoen en kan heeljaar gebruik word om enige maalvleis, pasta, potjiekos of enige ander dis op te kikker. Pak ’n paar bottels in vir die kampterrein en gebruik net dít pleks van ander souse en geurmiddels.

Jy benodig:

4 kg tamaties
1 kg uie, grofgekap
3 koppies witasyn
750 g -1 kg suiker
2½ eetlepels sout
2 eetlepels kerriepoeier (opsioneel)
1 eetlepel borrie (opsioneel)
1 eetlepel droë mosterd
3 eetlepels mielieblom (Maizena)

Só maak jy

  1. Sny ’n kruisie in die tamatie waar die stingeltjie was. Sit die tamaties in ’n groot, diep bak en gooi kookwater oor tot al die tamaties bedek is. Ná ’n paar minute behoort jy die skilletjies van die kruisie af maklik te kan aftrek. Sny die tamaties dan in kwarte.
  2. Kook intussen die ui, 2 koppies asyn, suiker, sout en speserye vir ’n halfuur saam in ’n kastrol.
  3. Gooi al die tamaties by die sous in die kastrol, en laat dit vir nog sowat 30 minute prut. Meng die mielieblom met die res van die asyn, voeg dit by die sous, roer die mengsel goed deur en kook dit vir nog 20 minute.
  4. Skep die warm sous dadelik in warm gesteriliseerde glasflesse.

‘n Wenk:

Jy kan die kerrie en borrie weglaat en dit met knoffel en rissie vervang – geur dit dan na smaak met roosmaryn of ’n bietjie basiliekruid. Jy kan ook soetrissie fynkap en byvoeg. Jy kan speel met geure en kruie.

Resep: Elsabe Carpenter, Resepte oud en nuut, Facebook

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *