Konstitusionele hof bekommerd oor apartheidswette wat steeds swart mense benadeel

“Die feit dat die spoke van ons lelike verlede steeds hul koppe uitsteek in die vorm van bepalings soos hierdie, baie jare na die koms van demokrasie, is onaanvaarbaar.”

Die konstitusionele hof van Suid-Afrika is bekommerd oor sekere apartheidswette wat steeds die swart mense van Suid-Afrika benadeel.

Die konstitusionele hof van Suid-Afrika is bekommerd oor sekere apartheidswette wat steeds die swart mense van Suid-Afrika benadeel.(Foto: The Knot)

JOHANNESBURG. – Die konstitusionele hof van Suid-Afrika is bekommerd oor sekere apartheidswette wat steeds die swart mense van Suid-Afrika benadeel.

Op grond van ras buite gemeenskap van goedere getroud

Agnes Sithole (72) het voor 1988 getrou. Sy is weens apartheid se Black Administration Act (BAA) op grond van ras buite gemeenskap van goedere getroud. Sithole moes intussen baklei vir die reg tot ‘n huis wat sy en Gideon Sithole (74) in 2000 saam gekoop het.

Volgens IOL het Regter Zukisa Tshiqi Woensdag ‘n paar woorde oor rassistiese wette wat steeds gevolge het, gehad. Sy het uitspraak gelewer oor die ongrondwetlike apartheidswetgewing, wat alle swart mense se huwelike voor 1988 outomaties buite gemeenskap van goedere verklaar het.

Agnes is een van die mense wat deur apartheidswette benadeel word

Regter Tshiqi het haar uitgespreek oor die Sitholes se saak teen die Black Administration Act (BAA). Die Sitholes se huwelik is op 16 Desember 1972 voltrek. In 2000 het hulle saam ‘n huis gekoop. Omstandighede in die Sitholes se huwelik het egter moeilik geraak. Gideon het gedreig om vir Agnes uit die huis te sit. Hy het ook gedreig om die huis te verkoop, aangesien dit op sy naam is.

Mev. Sithole het ‘n interdik teen haar man gekry om te keer dat hy nie die huis verkoop voor die saak afgehandel is nie. Gideon Sithole is egter vanjaar op die ouderdom van 74 oorlede.

Mense was nie in kennis gestel oor hul regte nie

Pogings wat glo in 1988 aangewend is om die impak van die BAA om te keer deur die Wet op Huweliksgoedere (MPA) , het nie gehelp nie. Swart mense word steeds deur die apartheidswet benadeel. Swart egpare is twee jaar gegee om hul huweliksgoederebedeling via die MPA te verander. Diegene wat nie bewus was van hierdie spesiale reëling nie, het buite gemeenskap van goedere getroud gebly.

Regter Tshiqi het betoog die meeste vroue het nie hul huwelikstatus verander nie omdat hulle nie van hul wettige regte bewus was nie. Die apartheidsregering het nie klem daarop gelê om hulle van hul regte in kennis te stel nie.

Ander rasse nie deur apartheidswette benadeel nie

“Vroue van ander rasse wat voor 1988 getroud is, “het nie die vooroordele gely soos mev. Sithole nie”. “Die feit dat die spoke van ons lelike verlede steeds hul koppe uitsteek in die vorm van bepalings soos hierdie, baie jare na die koms van demokrasie, is onaanvaarbaar,” het regter Tshiqi gesê.

Sy het beveel dat alle swart mense se huwelike wat voor 1988 gesluit is, binne gemeenskap van goedere verklaar moet word. Behalwe vir die egpare wat kies vir ‘n huwelik buite gemeenskap van goedere.

Lees ook: Leerlinge glo deur ‘bose geeste beset’

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: