April 19, 2021

Van my droomwerk tot bedlêend

Schlebusch het ‘n BackABuddy-veldtog begin om geld in te samel om in ‘n tehuis vir 24/7 te kan gaan woon.

Van my droomwerk tot bedlêend (Foto: Verskaf)

Van my droomwerk tot bedlêend (Foto: Verskaf)

STRAND. – Retha Schlebusch se pad met veelvoudige sklerose het in 1996 begin. “Ek het eerste “skim” simptome begin ervaar en dokters kon nie vasstel wat fout is met my nie. Die eerste regte simptome was in my regterarm. My hele arm het lam geword, vol naalde en spelde.”

In September daardie jaar het Schlebusch optiese neuritis in haar regteroog gekry. Sy sê dít was toe haar pad met veelvoudige sklerose begin het, maar sy het dit nog nie geweet nie.

“Deur die jare het my “skim” simptome aangehou. Eers ‘n pyn hier en dan ‘n pyn daar. Dokters het vir my gesê ek moet ‘n sielkundige gaan sien. Tot ek in 2004 uiteindelik gediagnoseer is.”

Schlebusch sê ‘n mens se lewe bestaan nie uit siekte nie en sy het in dié stadium steeds voltyds gewerk.

Sy het van 1991 tot 2001 vir Absa gewerk, daarna tot in 2007 vir ‘n uitvoerder van rooibostee. Daarna het sy vir ‘n uitvoerder van sekuriteitsheinings tot Julie 2010 gewerk. Daarna was sy ‘n senior bestuurslid vir Nampak. “Dit was my droomwerk.”

Schlebusch het in 2003 getrou en haar seun in 2006 gehad. Sy het ook toe begin studeer om haar diploma in internasionale handelsbestuur en uitvoer te behaal.

Lees ook: Jason Derulo en Jena Frumes binnekort babaseun ryker

Ná Schlebusch met veelvoudige sklerose gediagnoseer is en behandeling ontvang het, was dit vir nege jaar in remissie voor dit in 2013 teruggekom het.

“Ten spyte van kortisoonbehandelings het my toestand bly verswak. Ek het eers net met krukke geloop, al hoe meer geval en toe meer tyd in die rolstoel deurgebring. In Desember 2017 het my toestand erger verswak en na twee maande in die hospitaal was ek verlam.”

Schlebusch vertel hoe haar toestand in 2018 net meer verswak het. “Weens my siekte was ek in geweldige pyn en het ek met spastisiteit gesukkel. 2018 was ook die laaste jaar wat ek ‘n sosiale geleentheid bygewoon het.”

In 2019 moes Schlebusch ‘n versorger kry. Haar bejaarde ma moes in hierdie stadium ook help om na haar te kyk. Sy het in 2020 ‘n versorger vir meer dae ‘n week gekry tot sy in Desember 2020 bedlêend geraak het en totaal afhanklik geraak het.

Lees ook: Soektog duur voort na 16-jarige Simoné le Roux

Schlebusch het ‘n BackABuddy-veldtog begin om geld in te samel om 24/7 in ‘n tehuis te kan gaan woon.

As jy ‘n skenking wil maak, klik hier.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: