April 21, 2021

Ma vertel van moeilike pad tot by normale geboorte ná twee keisers

“Ek wil net graag hê ander mammas moet besef VBACS ís moontlik.”

Ma vertel van moeilike pad tot by normale geboorte ná twee keisers (Foto: Verskaf)

Ma vertel van moeilike pad tot by normale geboorte ná twee keisers (Foto: Verskaf)

WARRENTON. – Lize-Marie Burger (21) gesels met FiND iT en vertel hoe sy na baie trane en baie dokters uiteindelik normaal kon geboorte gee ná twee keisers.

“Ek wil net graag hê ander mammas moet besef VBACS (vaginal birth after C-section) ís moontlik.”

Burger is die ma van drie seuntjies. Haar oudste, Janco, is nou vier jaar oud. Hanro, haar tweede seuntjie, is twee jaar oud en haar jongste, Wandré, is nou twee weke oud.

Eerste swangerskap

“Met my eerste swangerskap was ek maar nog dom. Ek het ‘n moeilike swangerskap gehad en ek het nie veel geweet nie,” vertel Burger. Sy het op 25 weke ‘n infeksie gehad en het ook (toe onbekende) aanvalle gekry. “So, toe my dokter op 35 weke vir my sê dat ek ‘n keiser moes kry omdat die kans vir ‘n aanval terwyl ek in kraam is, te groot was, het ek dit aanvaar.”

Tweede swangerskap

Met haar tweede swangerskap wou sy nie ‘n keiser hê nie, vertel Burger. “Ek het oral gesoek vir ‘n dokter wat my sal help met ‘n normale geboorte ná ‘n keisersnee (VBAC).”

Toe sy uiteindelik een kry, het dié dokter vir haar gesê dat sy in elk geval ‘n keiser sal moet kry as sy teen 40 weke steeds nie in kraam is nie. “Toe ek teen 40 weke steeds nie in kraam was nie, is ek in die hospitaal opgeneem. Ek het ‘n Foley bulb-induksie gekry en my dokter het daardie tyd vir my gesê dat as ek teen 14:00 nie verder ontsluit is nie, sal ek vir ‘n keiser moet gaan. Ek en my baba was piekfyn.”

Lees ook: SA’ner Adrian Nel dood in Mosambiek-aanval

Burger sê toe sy teen 17:00 nog nie in kraam was nie, het haar dokter gesê sy het geen ander opsie meer as om ‘n keiser te laat doen nie.

“Ek het haar toe mooi gevra of ons nie die laaste opsie kan oorweeg nie; dat sy my water breek.” Toe Burger na ‘n rukkie steeds nie in kraam was nie en haar baba intussen nood ervaar het, moes sy noodgedwonge ‘n keisersnee kry.

Doula-kursus

Burger het ná haar tweede seuntjie se geboorte in die inperking met ‘n doula-kursus begin. Sy het daarna onbepland met ‘n derde seuntjie swanger geraak en sê sy kon toe self navorsing doen oor wat die beste vir haar en haar babatjie is.

“Ek moes spesifiek navorsing doen oor normale geboorte ná keisersnitte en ek het toe geleer ‘n vrou kan nie kraam as haar liggaam nie reg is daarvoor nie. Met my tweede swangerskap was my lyf net nie reg op 40 weke nie. En ‘n vrou mág loop tot op 42 weke.”

Burger sê sy het regtig gesukkel om ‘n dokter te kry wat bereid is om ‘n VBAC na twee keisersnitte te doen. “Ek en my doula het die omgewing rondom Warrenton plat gebel op soek na ‘n dokter wat my kan help.

“Die laaste dokter wat ek probeer bel het, was toe met verlof en ek is aangesê om vir haar ‘n e-pos te stuur. Ek het dit toe as die perfekte geleentheid gesien om vir haar my hele verhaal te vertel en ook vir haar my navorsing te stuur. Ek is gebel om in te kom en die dokter het ingestem om my te help.”

Rooi vlaggies

Dié dokter se manier van dinge doen was vir Burger van die begin af ‘n rooi vlaggie, maar sy sê sy was net te dankbaar om ‘n dokter te hê wat ingestem het vir haar normale geboorte.

“Op 38 weke, die Dinsdag, is daar vir my gesê dat my baba opgehou groei het en dat my plasenta nie meer ‘werk; nie. Die dokter het gesê dat sy daardie Vrydag ‘n noodkeiser moes laat doen.”

Lees ook: Tragiese Koopmansfontein-treinongeluk eis drie jong lewens

“Ek was in ‘n toestand. Ek het daardie aand natuurlik niks geslaap nie en ek het vreeslik gebid. Toe sê my man vir my ek moet gaan vir ‘n tweede opinie.”

Tweede opinie

Die dokter by wie Burger haar tweede opinie gekry het, het vir haar gesê haar baba is piekfyn en groei baie mooi. Burger het toe gevra dat haar keiser dan net met ‘n week uitgestel word, want “dalk gaan ek nog daardie week in kraam”.

“My vroedvrou het gesê ek moet na my baba se hartkloppie gaan kyk en laat toets of hy genoeg beweeg. Ek was toe Hartswater toe om dié toets te laat doen en my baba was 100%.

Burger se man, Jaco, het daarna die dokter gebel om uit te vind presies waarom Burger ‘n keisersnee moes kry. “Die rede wat vir hom gegee is, is dat my plasenta begin kalsifiseer. Wat weer ‘n heel ander rede is as dié wat die dokter vir my gegee het. Die foon is in sy oor doodgedruk toe hy meer vrae begin vra.”

Keuse maak

“My man het my gebel en gesê ek moet ‘n keuse maak. Wil ek ‘n keiser hê of wil ek dit kanselleer? Ek het hulle toe baie vriendelik gebel en gesê ek kanselleer my keiser. Dit was nogal ‘n scary ding om te doen!”

Burger en haar man is kort daarna Johannesburg toe om ‘n ander ginekoloog te sien. Weereens het die ginekoloog vir hulle gesê hulle babaseuntjie is piekfyn en gesond en Burger kan normaal kraam. Dié dokter sou Burger se keiser doen sou iets fout gaan met haar normale geboorte.

“Die voedvrou met wie ek regdeur my swangerskap telefonies gepraat het, het gesê sy sal my normale geboorte vir my doen.”

Lees ook: Kby – sportmeneer-verkragtingsaak uitgestel

Normale geboorte

Burger vertel sy het die Saterdagaand begin pyne kry en dit eers self by die huis probeer hanteer, maar toe sy teen 12:00 daardie aand nie meer kon nie, het sy na die voedvrou gery. Hulle het 03:00 die oggend daar aangekom en haar voedvrou het bevestig sy is in kraam.

“My voedvrou het my nie vir ‘n sekonde alleen gelos nie. Ek het so vinnig ontsluit omdat ek ontspanne was en na 20 minute se druk is Wandré gebore.”

“Hy het 3,125 geweeg en ek kon hom borsvoed en vashou en hy was heeltyd by my.”

“Ek wil net graag hê ander mammas moet besef VBACS ís moontlik.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: