April 18, 2021

9 stappe vir beter kommunikasie met jou maat

Die meeste van ons kommunikasie met mekaar in enige vriendskap of verhouding is nie wat ons sê nie, maar hoe ons dit sê.

9 stappe vir beter kommunikasie met jou maat

9 stappe vir beter kommunikasie met jou maat

Julle is twee emosionele mense wat hul eie ervarings, geskiedenis en verwagtinge in ’n verhouding inbring. Almal het ook verskillende vaardigheidsvlakke in kommunikasie. Gelukkig is beter kommunikasie ’n vaardigheid wat aangeleer kan word. Kommunikasie kan die meeste verhoudings maak of breek.

Hier is nege wenke om kommunikasie te verbeter.

Stop en luister

As ons diep in ’n ernstige gesprek of argument met ons maat verkeer, is dit moeilik om ons punt vir die oomblik opsy te sit en net te luister. Ons is dikwels so bang dat ons nie gehoor word nie dat ons aanhou om te praat. Ironies genoeg maak sulke gedrag dit waarskynliker dat ons nie gehoor word nie.

Dwing jouself om te hoor

Jy het opgehou praat, maar jou kop is nog besig om te swaai met al die dinge wat jy wil sê, sodat jy nie regtig hoor wat daar gesê word nie. Terapeute het ’n tegniek wat baie goed werk en hulle “dwing” om regtig te hoor wat ’n kliënt vir hulle sê – om te herformuleer wat ’n persoon sopas vir hulle gesê het.

Dit kan jou maat ontstel as jy dit te veel doen, of dit doen in ’n stemtoon wat daarop dui dat jy hom of haar spot eerder as om ernstig te probeer luister. Gebruik dus die tegniek spaarsamig, en laat jou maat weet hoekom jy dit doen as hy vra.

Wees oop en eerlik met jou maat

Sommige mense was nog nooit in hulle lewe baie oop met ander mense nie, maar om in ’n verhouding te wees, is om jouself vir jou maat oop te maak.

Om oop te wees, beteken om te praat oor dinge waaroor jy nog nooit tevore met ’n ander mens gepraat het nie. Dit beteken dat jy kwesbaar en eerlik met jou maat moet wees. Dit beteken om jouself oop te maak vir moontlike seerkry en teleurstelling, maar dit beteken ook jy moet jouself oopstel vir die volle potensiaal van ’n verhouding.

Let op na nie-verbale seine

Die meeste van ons kommunikasie met mekaar in enige vriendskap of verhouding is nie wat ons sê nie, maar hoe ons dit sê. Nie-verbale kommunikasie is jou liggaamstaal, die stemtoon, oogkontak en hoe ver jy van die ander persoon is is as jy met hom of haar praat.

Dit neem tyd en geduld om jou maat se nie-verbale seine te lees, maar hoe meer jy dit doen, hoe meer ingestel sal jy wees op wat hy regtig sê.

Bly gefokus in die hier en nou

Soms verander besprekings in argumente, wat dan verander in ’n bespreking van alles anders behalwe die probleem. Om respek vir mekaar en die verhouding te hê, moet jy probeer om die bespreking op die onderwerp gefokus te hou.

Probeer emosie tot die minimum te beperk as jy oor belangrike, groot besluite praat

Niemand kan oor belangrike, groot sake praat as hulle emosioneel kwesbaar voel of kwaad is nie. Dit is nie dan die tyd om oor ernstige probleme te praat nie. Jy dink miskien dit is onmoontlik om oor ’n emosionele onderwerp te praat sonder om emosie te hê. Hierdie besprekings moet ‘n vastrapplek in realiteit behou.

Wees gereed om ’n argument te laat vaar

Wil jy eerder in ’n gelukkige verhouding wees waar jy die ander persoon respekteer, selfs al sou jy soms nie met hom saamstem nie? Of wil jy liewer in ’n ongelukkige verhouding wees waar jy weet jy is altyd reg, maak nie saak wat nie? Dit gaan oor prioriteite – as om “reg” te wees vir jou belangriker is as jou maat se geluk, dan het jy miskien nie die regte maat gevind nie.

Humor help gewoonlik

Jy hoef nie snaaks te wees om humor in alledaagse gesprekke te gebruik nie. Jy hoef net jou sin vir humor in jou kommunikasie met jou maat te gebruik. Humor help om daaglikse frustrasies te verlig en help beter as ander metodes om dinge sagter in perspektief te plaas. Speelsheid herinner ons daaraan dat ons, selfs as volwassenes, almal ’n kant het wat hou van pret hê en om ’n blaaskans te neem van die erns van werk en ander eise wat aan ons gestel word.

Kommunikasie is meer as net praat

Jy kan behalwe om te praat op ander maniere ook kommunikeer – deur jou optrede en deesdae ook elektronies. Paat fokus te dikwels net op die verbale aspek van die verhouding, maar jou optrede praat ook hard. Om deur die dag of week deur middel van e-pos of op enige ander elektroniese manier kontak te hou, herinner ook jou maat jy dink aan hom en hoe belangrik hy in jou lewe is. Selfs al is sulke kommunikasie hoofsaaklik speels of onbeduidend, kan dit help om jou maat se dag beter te maak.

Niemand is die heeltyd ’n perfekte kommunikeerder nie, maar jy kan werk daaraan om beter te kommunikeer.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: