April 19, 2021

Gedenkdiens vir Nathan Parker

Nathan Parker. (Foto's: Verskaf)

Nathan Parker. (Foto's: Verskaf)

KIMBERLEY. – Die gedenkdiens vir Nathan Parker, geliefde pa, oupa en vriend, word môreoggend om 08:00 vanuit The Potter’s Hand Church in Kimberley uitgesaai.

Parker, wat oorspronklik van Kaapstad is, het hier in Kimberley gewoon en gewerk.

Hy was ‘n afgetrede korrektiewe-dienste-offisier en het ook sy eie besigheid gehad.

Parker is weens natuurlike oorsake oorlede.

Hy word deur sy vrou, Gail, sy vier kinders, LaRochelle, Bradley, Chaswin en Ashwin, en sy vier kleinkinders oorleef.

Ashwin, sy seun, sê hy sal altyd onthou dat sy pa altyd deurgedruk het wanneer hy iets begin het. “Hy het altyd iets waarmee hy begin het, klaargemaak. Hy was ‘n baie nederige mens. Hy het ook nie altyd baie gehad om te sê nie, maar sy woorde was altyd genoeg. Met sy goeie dade het hy met mense gepraat. Hy was ‘n Jack of All Trades.

Riaan van der Merwe het die volgende op sy Facebook-blad vir Nathan geskryf.

Vir Nathan

Het jul gehoor Nathan het aanbeweeg. Hy is nie afgedank nie, net ‘n beter betrekking gekry. Dit was onverwags.

Ek was heel gelukkig om sy aardse getuigskrif in die hande te kry.
G’n wonder hy was so in aanvraag nie.
In die Kaap het hy wortel geskiet, terwyl die lewe sy boompie snoei, sonder moedersmelk, het hy bly groei.

Die lewe het hom gebrei, maar teen swaarkry het hy bly stry. Alleen het hy statuur gekry.

Die veld het hy geken, bruin droë met lewensvermoë diamantvlaktes ontgin. Tafelberg se skadu bly sy kameraad.
Sy trots het in sy werk gelê, en wysheid in sy aard.

Stadseun het Noord-Kaap seun geword en geregtigheid was sy vennoot. Onkreukbaar het hy die staat gedien, ‘n bewaarder van aansien.

Die diens het hy gevoel in sy gemoed, en besluit om te groet, terwyl transport nou bruis in sy bloed.

Bemind soos Josef was hy, sy stal rygoed het geblink op ‘n ry, versigtig opgepas, met ‘n kontrak of drie was werk nou nommerpas.

Die vaal grondpad het hom ingehaal, toe halfbloed, volbloed broer ‘n palmtak laat daal.

Saam het ons brood gebreek langs ‘n knetterende vuur, ons band, met nektar voggies gevier.

Sy familie het hy bymekaar gehou, geskool en verder gebou.

Met sterk arms van ver, sag omvou en met vernuf hul bly onderhou.
Dankbaar het hy gebly, toe daar van Bo besluit is om hom te by sny.

Ja, hy het nou aanbeweeg, sal nie swaarkry daarbo.
Gun hom sy nuwe werk, want sy beloning gaan hemels wees.

Tot weersiens Nathan Parker

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: